Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk dit in WeWork se nuwe Kaapse kantoor
WeWork se eerste gemeenskaplike kantoorgebou in Kaapstad is in Strandstraat in die middestad geleë. Foto: WeWork

Onbeperkte gratis koffie (gemaak deur ’n dowe barista), vrugtewater in spesiaal gemaakte bekers en ontbyt op Maandae is maar net van die voordele wat kom saam met ’n lessenaar in WeWork se nuutste gemeenskaplike kantoorgebou in Kaapstad.

WeWork 80 Strand Street is dié Amerikaanse onderneming se derde gebou in Suid-Afrika naas The Link in Rosebank, Johannesburg, en 155 West Street in Sandton.

Die media het Maandag ’n spesiale voorskou van WeWork in Kaapstad gekry voordat die byderwetse kantoor sy deure amptelik ’n week later oopmaak.

WeWork se Kaapse kantoor het drie vloere, elk met sy eie kombuis en onbeperkte gratis koffie en tee.Foto: WeWork

Gemeenskaplike kantore is geen nuutjie in die Moederstad nie, met etlike sulke plekke deur die stad heen versprei.

In die middestad alleen is daar minstens tien sulke kantore om van te kies.

WeWork is wel ’n internasionaal gerekende handelsnaam met gedeelde kantoorruimte in 127 stede oor die wêreld heen.

Die gemeenskaplike areas bied die geleentheid om maklik ander mense te ontmoet. Foto: WeWork

Dit fokus op die “mentaliteit van die millenniër,” sê Stafford Masie, bestuurder van WeWork in Suid-Afrika.

Dit wil sê WeWork bied ’n spasie waar jong werkendes as’t ware kan uithang en sosialiseer terwyl werk ook verrig word.

WeWork bied verskeie opsies, van ’n lessenaar waarvan die ligging van dag tot dag verskil tot jou eie kantoor met ’n deur wat kan sluit.

Die Kaapse kantoor, ingerig in ’n ou kantoorgebou in Strandstraat, is ’n doolhof van glashokkies teen ’n agtergrond van spierwit mure bedek met indrukwekkende kuns deur plaaslike kunstenaars.

Die gemeenskaplike area bied verskeie areas waar daar gewerk of ontspan kan word. Foto: WeWork

Ruim leefareas bied die kans om te sosialiseer met medewerkers uit alle oorde met onbeperkte koffie en selfs bier wat help dat die energievlakke hoog bly.

Hoëspoedinternet, drukkers, parkeerplek en toegewyde personeel wat na alles omsien, is ingesluit in die stewige maandelikse tarief.

Talle lessenaars bied ’n pragtige uitsig oor die stad. Foto: Petrus Malherbe

’n Eie lessenaar in 80 Strand Street sal jou minstens R3 350 per maand kos, maar dié prys raak al meer hoe mooier jou uitsig oor Tafelberg word.

WeWork se internasionale flaters waaroor daar in 2019 wyd berig is, pla sy plaaslike span min.

WeWork het onder meer misluk in sy poging om te noteer en die direksie het sy uitvoerende hoof en medestigter, Adam Neumann, uitgeskop en met twee nuwe hoofde vervang.

Die kantore is baie naby mekaar en die gange skep die gevoel van ’n doolhof. Foto: Petrus Malherbe

Volgens Masie is hy en die res van die plaaslike WeWork-span vol vertroue dat Artie Minson en Sebastian Gunningham as nuwe uitvoerende hoofde die maatskappy tot winsgewendheid sal lei.

WeWork se verliese vir 2019 beloop meer as $3 miljard en hy het in November meer as 20% van sy wêreldwye werksmag afgedank.

In Suid-Afrika blyk die konsep egter ’n sukses te wees, met albei Johannesburgse kantore wat reeds bykans vol is.

Daar is ook vier groot kantore beskikbaar waar meer as 100 mense kan sit. Foto: Petrus Malherbe

Meer oor:  Wework  |  Kantoor  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.