Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
So lyk Markus Jooste se verweer in R740 m.-eis

Markus Jooste, die onteerde voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep, ontken alle beweringe teen hom in sy verweer in ’n eis van R740 miljoen teen hom.

Die eis van die Le Toit Trust is een van net twee eise wat sover bekend al regstreeks teen Jooste ingedien is. Dié eis is deur die trustees van die Le Toit Trust, onder andere Jaap du Toit, ’n stigterslid van die PSG-groep, ingedien.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Die ander regstreekse eis teen hom is die R870 miljoen se salarisse en bonusse wat Steinhoff van hom terugeis. Dié eis is in Junie ingedien.

Hy is wel as derde party bygevoeg in talle ander eise teen Steinhoff, soos die een van R60 miljard teen die groep deur maatskappye van Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff.

Jooste het in Julie in dié saak in plaas daarvan om ’n verweer aan te teken, ’n tussengeding aanhangig gemaak om toegang te kry tot die forensiese verslag wat Steinhoff oor sy boeke aangevra het.

LEES OOK: Jooste vra hof vir forensiese verslag oor Steinhoff

Du Toit-hulle beweer in die eis teen Jooste hy het al voor die trust sy PSG-aandele vir Steinhoff-aandele geruil het, geweet die 2014-jaarstate bevat erg oordrewe batewaardes, spesifiek ten opsigte van eiendomme, handelsname en klandisiewaarde; onderspeel die laste van die groep beduidend; mislei ten opsigte van die kontantvloei en oordryf die winsmarges.

Dit hou spesifiek verband met die Steinhoff-maatskappy wat tot einde 2015 nog net in Suid-Afrika genoteer en hier geregistreer was.

Hulle voer aan Jooste het in Junie 2015, toe hy en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, die voorstellings gemaak het vir die ruilooreenkoms, geweet die inligting is vals en misleidend.

Jooste ontken die aantygings oor die 2014-state, insluitend dat die uitgawes van die Suid-Afrikaanse Steinhoff beduidend onderaangedui is.

Le Toit Trust voer aan dat die waarde van Steinhoff- aandele in daardie stadium eintlik niks meer as R1,27 per aandeel was nie. Dit is in teenstelling met die Steinhoff-aandeelprys waarteen hul ruilooreenkoms plaasgevind het van R74,03.

Die trustees sê daar was talle redes vir die beweerde misleidende inligting.

Dit sluit in dat die groep lenings aan entiteite gegee het wat nie op sy balansstaat is nie sodat hulle verliesmakende maatskappye in die groep teen opgeblase pryse kon koop. Omdat die verliesmakende maatskappye van sy balansstaat verwyder is in 2014 en dit vervang is met ’n eis teen die vermeende kopers, is die balansstaat kunsmatig versterk. Die rente op dié lenings is dan as inkomste getoon en sodoende is die inkomste kunsmatig opgeblaas.

Ben la Grange, Voormalige finansiële hoof van Steinhoff.

Rondomtalies

Die trustees beweer ook maatskappye in die groep het van “round tripping” gebruik gemaak, wat behels die verkoop van bates aan ’n koper teen ’n sekere prys. Dan sou dieselfde bate teen ’n oordrewe prys teruggekoop word, ten spyte daarvan dat die markwaarde nie toegeneem het nie. Die kunsmatige verhoging van die prys het die waarde van die bates in die 2014-state oordryf.

Le Toit Trust beweer ook dat die Suid-Afrikaanse Steinhoff en maatskappye in die groep transaksies teen oordrewe waardes aangegaan het met maatskappye waarin Jooste ’n ongeopenbaarde belang gehou het.

In die eis word ook beweer die Suid-Afrikaanse Steinhoff het in gebreke gebly om die finansiële resultate van sekere verliesmakende ondernemings in die groep in sy gekonsolideerde finansiële state te toon. Dit het ingesluit dat JD Consumer Finance se leningsboek verkoop is en dat die bedrywighede van dié onderneming gestop is, terwyl dié skuldboek nie verkoop is nie en die bedrywighede nie gestop is nie.

JD Group was ’n groot genoteerde meubelgroep in Suid-Afrika wat vroeër deur Steinhoff gekoop is.

Hulle voer ook aan die Suid-Afrikaanse Steinhoff het lenings aan entiteite van sy balansstaat af verskaf wat betalings aan maatskappye in die groep gemaak het, wat dan aangetoon is as sogenaamde korting (rabat) van verskaffers. Dit het die koste van verkope verminder en winste verhoog, terwyl dit nie ’n werklike rabat was nie.

Jooste ontken alle aantygings in dié paragrawe van die eis.

Teksboodskappe en e-posse

Hy ontken ook paragrawe waarin beweer word dat hy op 30 November 2017, net voor die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys, ’n teksboodskap aan Du Toit gestuur het waarin hy sê hy moet dadelik sy aandele verkoop.

LEES OOK: Steinhoff: Só waarsku Jooste glo oor aandeelprys

Dit sluit ook in die beweerde teksboodskap wat hy aan ’n vriend van hom gestuur het nadat die bom op 6 Desember gebars het waarin hy hom om verskoning vra vir die “skande wat hy oor Steinhoff gebring het”.

LEES OOK: SMS van Markus Jooste aan vriend sien die lig

Die eisers sê om die omvang van Jooste se kennis oor die vals en misleidende inligting te bevestig, is staatgemaak op onder meer die teksboodskappe en die e-pos wat hy 5 Desember aan verskeie mense gestuur het oor sy bedanking.

Hulle verwys ook na ’n reeks e-posse wat Jooste na bewering in Augustus 2014 aan Dirk Schreiber (toe hoof van die Steinhoff-groep in Europa) en Siegmar Schmidt gestuur het. Hulle beweer hy het die twee aangemoedig om die Steinhoff-groep se finansiële state te manipuleer met ondernemings wat van die balansstaat is om die verliese van JD Consumer Finance te verberg.

Moneyweb het in 2018 oor dié reeks e-posse berig. Lees die berig #SteinhoffLeaks Part 1: ‘Some big mistakes’.

Jooste ontken ook hy het Steinhoff in Junie 2015 verteenwoordig toe die ruilooreenkoms met die trust onderteken is. Hy beweer La Grange het Steinhoff verteenwoordig.

Meer oor:  Pepkor  |  Le Toit Trust  |  Psg  |  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Jaap Du Toit  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.