Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk slagting onder Absa-poste

Absa het nou 1 700 minder werknemers as ’n jaar gelede.

A new corporate logo sits on the branded hi-vis ja
Absa se nuwe logo, wat in 2018 bekend gestel is. Foto: Getty Images

Dit verteenwoordig ’n vermindering van nagenoeg 5% van sy arbeidsmag, het Jason Quinn, die bankgroep se finansiële hoof, Dinsdagoggend gesê op ’n voorlegging oor Absa se tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Junie.

’n Aantal poste van dié poste is besnoei toe Absa se gewone bankafdeling saamgesmelt het met sy welvaartbestuurs- en versekeringsafdeling, ’n herstrukturering wat deel was van Absa se skeiding van die Britse bank Barclays. Heelwat bestuurslae is in die proses verwyder. Quinn het in ’n voorlegging aan beleggers gesê dis deel van die proses om meer kliënt-gefokus te word.

Die bankgroep het in Maart gesê hy beoog om vanjaar tot 827 poste te verminder soos hy sy aantal takke verminder. So onlangs as twee weke gelede het die bankwerknemersvakbond Sasbo geste 878 mense word deur moontlike afleggings geraak.

Volgens ’n woordvoerder van Absa kan hulle nog nie sê hoeveel mense hul werk vanjaar gaan verloor nie omdat onderhandelinge nog voortduur.

Die woordvoerder het ook beklemtoon dat die verlies aan 1 700 poste nié alles deur afleggings is nie, maar ook omdat nie alle poste gevul word wanneer mense aftree of bedank nie.

Die slagting van poste in Suid-Afrika se bankwese is die afgelope ruk in die nuus. Standard Bank het reeds die meeste van die 104 takke gesluit wat hy in Maart aangekondig het gaan sluit, waardeur nagenoeg 1 200 mense hul werk verloor het. Nedbank gaan tot 100 mense aflê.

Die afleggings word grootliks daaraan toegeskryf dat al hoe minder mense takke besoek soos wat meer mense toegang tot internetbankdienste en apps kry. Bank-apps se vermoë word ook vinnig uitgebrei om al hoe meer funksies te kan verrig wat vantevore in takke gedoen moes word.

Absa se app is ook heelwat uitgebrei die afgelope ses maande, wat tot ’n styging van 20% in die aantal gebruikers gelei het.

LEES OOK: Só daal kliënte wat Standard Bank-takke besoek

Uit die syfers wat dié drie banke die afgelope week uitgereik het, is dit ook duidelik dat die swak plaaslike ekonomie hul wins onder druk plaas.

René van Wyk, Absa se waarnemende uitvoerende hoof tot die einde van die jaar, het op die voorlegging gesê die makro-ekonomiese omgewing is “strawwer as verwag”.

Die groep het sy verwagting vir ekonomiese groei verlaag in agt uit die tien grootste markte waarin hy sake doen. In Suid-Afrika verwag Absa nou groei van net 0,5% in 2019, terwyl hy in Maart nog 1,7% voorspel het.

In syfers

Só vergelyk Absa se 2019-halfjaar met die 2018-halfjaar. Al die syfers is genormaliseerde syfers, wat die uitwerking van die skeiding van Barclays middel verlede jaar in ag neem:

  • Wesensverdienste styg met 3% tot R8,3 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 3% tot 975,8c
  • Inkomste styg met 6% tot R39,1 miljard
  • Dividend styg met 3% tot R5,05 per aandeel
  • Kapitaaltoereikendheidskoers (CET 1) daal tot 12,5% (2018: 13,3%)
  • Netto batewaarde per aandeel styg met 7% tot R123,35

Die bank se wesensverdienste het met net 3% tot R8,3 miljard gestyg en sy inkomste met 6% tot R39,1 miljard.

Net in Suid-Afrika het Absa se inkomste uit gewone bankdienste (sy kleinhandelbank) egter met slegs 4% gestyg. Dié afdeling verteenwoordig 60% van die groep se inkomste.

Absa sê sy syfers is gehelp deurdat hy markaandeel in Suid-Afrika kon wen. Só het die aantal huisverbande wat Absa in Suid-Afrika geregistreer het, met 16% gestyg, teenoor die totale styging landwyd van net 7%. Nuwe persoonlike lenings het met 20% gestyg en deposito’s by die bank het met 12% gestyg.

Die bank se korporatiewe en beleggingsbankafdeling se inkomste het met 5% gedaal, veral weens die “moeilike handelstydperk” in Suid-Afrika..

“Ons doen al die regte dinge om sukses te behaal,” sê Van Wyk.

    Meer oor:  Absa  |  Barclays  |  Jason Quinn  |  René Van Wyk  |  Banke  |  Afleggings  |  Bankbedryf
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.