Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só maak Shoprite ná amper 500 rooftogte ’n jaar
Shoprite
Een van Shoprite se vragmotors. Foto: Verskaf

Die Shoprite-groep het ’n teenmisdaadspan op die been gebring en belê groot in gesofistikeerde veiligheidstelsels nadat amper 500 gewapende rooftogte en inbrake in die afgelope jaar by sy winkels plaasgevind het.

Die groep het gesê die belegging in misdaadvoorkoming, insluitend ’n sentrale beheersentrum en die teenmisdaadspan, help om winkels en voertuie te monitor, voorvalle op te volg en te verseker dat verdagtes in hegtenis geneem word.

Die beheersentrum gebruik ’n uitgebreide intelligensienetwerk om regstreeks inligting te ontvang tydens stakings, betogings en ander voorvalle.

“Die inligting sal gebruik word om te reageer en die nodige stappe te doen om die groep se vloot op die pad en personeel en klante in die winkels te beskerm,” het Oswald Meiring, die groep se bestuurder van veiligheid, luidens ’n verklaring gesê.

Meiring sê die plan het reeds vrugte afgewerp omdat meer vervolgings plaasgevind het.

Die groep het 489 gewapende rooftogte en inbrake in sy pas afgelope boekjaar gehad. Dit is 'n sprong van 19 van die vorige jaar af. 

Volgens hom gaan Shoprite “sy bes doen om seker te maak hy is ’n moeiliker teiken”.

Hy sê inhegtenisneming het met 200% gestyg danksy die groep se beter vermoë om oortreders te identifiseer, op te spoor en in hegtenis te laat neem.

Die groep het byvoorbeeld onlangs bystand verleen met die inhegtenisneming van twee verdagtes nadat die bestuurder van sy winkel op Worcester in ’n rooftog doodgeskiet is. Nog ’n verdagte is geïdentifiseer en gaan waarskynlik binnekort in hegtenis geneem word.

Die groep werk saam met die polisie en die nasionale vervolgingsgesag soos om intelligensie met hulle te deel om seker te maak borg word suksesvol teengestaan en dat die misdadigers suksesvol vervolg word.

Benewens opsporingstoestelle het die groep kameras en elektroniese slotte op sy vragmotors aangebring wat van die beheersentrum af beheer kan word.

Die vragmotors kan op ’n afstand geopen en gesluit word en ’n alarm gaan af as die vragmotors vir ’n sekere tyd stilstaan of ongewone gedrag bespeur word oor hoe die vragmotor bestuur word.

Volgens hom het geen kapings van die voertuie plaasgevind sedert die toestelle aangebring is nie.

Bo en behalwe al dié maatstawwe het die Shoprite-groep ook ’n ondersoekspan in diens geneem wat uit ervare ondersoekers bestaan. Dit sluit in deskundiges wat die inligting oor die vorige voorvalle ontleed en voorspellings maak oor op watter winkels of areas daar volgende gefokus gaan word.

Die groep het ook ’n prokureur aangestel wat ’n kundige in strafsake is om te help met die suksesvolle vervolging van misdadigers.

Meer oor:  Shoprite  |  Supermark  |  Misdaad  |  Rooftogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.