Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só moet jy vlieg op vlak 3
Streng maatreëls gaan op lughawens geld wanneer lugdienste weer in bedryf gestel word. Foto: Twitter

As jy onder vlak 3 van die staat van inperking vir werk moet vlieg, is daar ’n rits maatreëls by lughawens waarvan jy bewus moet wees.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het Dinsdag dié reëls bekend gemaak.

Dit volg nadat vlieg vir sakedoeleindes luidens vlak 3-regulasies toegelaat word.

Gopolang Peme, woordvoerder vir Acsa, sê dié maatreëls word geneem om te verseker dat soos wat lughawens stelselmatig oopgemaak word, dit veilig is vir alle belanghebbendes.

Peme waarsku dat dié nuwe maatreëls die proses verleng om deur die lughawe te beweeg. Passasiers moet dus nou minstens twee uur voordat hul vlug vertrek, reeds by die lughawe wees.

Ander maatreëls is as volg:

Aankoms op die lughawe

  • Passasiers moet net afgelaai word, of moet openbare vervoer gebruik om na die lughawe te reis. Net passasiers sal binne die terminaal toegelaat word;
  • Daar sal beperkte spasie wees waar motors geparkeer kan word. Dit sal duidelik gemerk wees;
  • Mense wat passasiers wil groet of op die lughawe kom haal, sal nié in die terminaal toegelaat word nie; en
  • Alle bagasie wat ingehandig word, móét nou met plastiek toegedraai word.

Ingang en toegangsbeheer

  • ’n Aantal van die ingange na lughawens is gesluit. Passasiers moet voordat hulle na die lughawe vertrek, Acsa se webtuiste besoek om te sien watter ingange gebruik moet word;
  • Toegang tot terminale word beperk;
  • ’n Gesonde afstand tussen mense moet deurgaans by die lughawe gehandhaaf word;
  • Maskers moet deurgaans gedra word. Dit geld van die oomblik wat ’n passasier by die lughawe aankom, gedurende die vlug en totdat hy/sy die lughawe verlaat;
  • Daar sal ’n siftingsproses by ingange wees;
  • Passasiers móét ’n brief waarin hul werkgewer hulle toestemming gee om te reis, by die ingang toon; en
  • Dit is passasiers se verantwoordelikheid om toestemmingsbriewe vir reis by hul werkgewer te kry.

Inboekproses

  • Passasiers moet voordat hulle by die lughawe aankom, reeds aanlyn op hul vlug inboek;
  • Indien passasiers nie voor die tyd aanlyn kan inboek nie, kan hulle die skerms binne die terminale gebruik om dit te doen; en
  • ’n Beperkte getal inboektoonbanke sal oop wees. ’n Gesonde afstand moet gehandhaaf word wanneer daar in rye by dié toonbanke gewag word. Dit sal dus langer neem om op dié manier in te boek.

Veiligheid

  • Passasiers sal self hul instapkaart – hetsy op papier óf op ’n mobiele toestel – by die veiligheidspunte skandeer; en
  • Passasiers moet metaal- en elektroniese voorwerpe van hul persoon verwyder voordat hulle geskandeer word. Dit sluit mobiele toestelle, horlosies, juweliersware, beursies en sleutels in. Dit moet in ’n sorteerbak geplaas word. Dié proses sal keer dat veiligheidspersoneel passasiers fisiek moet deursoek.

Die vlug

  • ’n Gesonde afstand moet gehandhaaf word terwyl passasiers aan boord gaan;
  • Passasiers moet weer sélf hul instapkaart skandeer voordat hulle aan boord gaan; en
  • Passasiers wat agter in die vliegtuig sit, sal eerste aan boord gaan.
  • Wanneer passasiers by hul bestemming aankom, moet ’n gesonde afstand gehandhaaf word wanneer bagasie van bagasievoerbande afgehaal word.
Meer oor:  Acsa  |  Vlieg  |  Vlak 3  |  Lughawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.