Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só openbaar Steinhoff transaksies met Wiese

Die oë het die afgelope week gerek oor die omvang van transaksies met verwante partye wat in die jongste jaarstate van Steinhoff vir die boekjaar tot einde Junie 2017 onthul is.

Jean-Pierre Verster, portefeuljebestuurder by Fairtree Capital, sê dit is verstommend om te lees hoe swak die korporatiewe oorsig in Steinhoff was.

’n Lys van vyf bladsye van verwante partye met wie transaksies gesluit is, verskyn nou in die jaarstate vergeleke met sowat ’n halfblad in die vorige boekjaar.

Verster meen dit is transaksies wat die oë laat rek.

steinhoff
Steinhoff in gelukkiger dae. Hierdie foto is in Desember 2015 geneem toe Steinhoff in Frankfurt genoteer het. Van links is Bruno Steinhoff, die stigter van die oorspronklike maatskappy, Ben la Grange, wat die finansiële hoof in die boekjaar was, Danie van der Merwe, wat bedryfshoof was, Christo Wiese, toe nog voorsitter, en Peter Pohlmann, wat deel van die uitvoerende komitee in die oorsigtyd was. Foto: Steinhoff

Dit toon ook talle sulke transaksies met Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer.

Baie daarvan word nou vir die eerste keer openbaar gemaak weens “gebrekkige openbaarmaking in die groep se historiese gekonsolideerde finansiële state”.

Gebrekkige openbaarmaking

Onder nota 29 in die jaarstate oor verwante-partye-transaksies word na Wiese onder ’n aparte hofie verwys, soos ook na Markus Jooste en talle ander. Dit handel ook oor kontrakte met entiteite waarin Wiese belange het.

Wiese het in reaksie op die verwysing na hom en die verwante-partye-transaksies, waaroor hy vir kommentaar genader is, dit duidelik gemaak dat niks in die jaarverslag gesê word van iets wat hy verkeerd gedoen het nie.

Die jaarverslag lui: “Gevalle van gebrekkige openbaarmaking in die groep se historiese gekonsolideerde finansiële state is geïdentifiseer met betrekking tot transaksies tussen die groep en Christo Wiese.

“Hierdie gebrekkige openbaarmaking is in terme van transaksies wat aangegaan is met Wiese en wat nie voorheen as transaksies met ’n verwante party geopenbaar is nie.”

Talle ondernemings en hul filiale waarby Wiese of sy nabye familie betrokke is, word nou as “wesenlike verwante partye” aangetoon: Brait; Shoprite; Upington; Titan Premier Investments; Titan Asset Management; Thibault Square Financial Services; Cream Magenta 140; Metcap 14; Toerama; en Invicta.

Een van die kontrakte met ’n maatskappy wat hy beheer waarna onder die verwante party en kontrakte met hulle verwys word, is ’n lening wat Upington aan Steinhoff gegee het en waarop rente verdien is.

Dié lening word ook aangespreek onder die afdeling oor die nakoming van die Nederlandse kode oor korporatiewe beheer.

Afwykings van die kode vereis ’n verduideliking.

Steinhoff identifiseer ’n aantal gevalle waar die beginsels en voorwaardes vir beste praktyk van die kode glo nie nagekom is nie, nie net met Wiese se entiteit nie, maar ook ander.

Dit sluit in dat Upington Investments Holdings B.V., wat deur Wiese beheer word, ’n lening van €47,4 miljoen aan Steinhoff verskaf het waarop rente van 0,5% per jaar verdien is.

Dit wil voorkom of Wiese nie dié “belangebotsing” aangemeld het nie, lui die verslag. Dit gaan nou verder ondersoek word, word gesê.

Dit wil ook voorkom of die toesighoudende direksie dit nie goedgekeur het nie, soos die kode vereis, wat ook verdere ondersoek verg.

Die toesighoudende direksie moes dit blykbaar ook ingevolge die kode goedgekeur het omdat Wiese meer as 10% van Steinhoff besit het.

Wiese het by navraag gesê hy weet nie wat Steinhoff daarby bedoel dat dit verder ondersoek moet word nie. “Al die vrae is gevra en al die antwoorde is al ’n jaar gelede (aan Steinhoff) gegee. Wat my aanbetref, is dit alles afgehandel.

“Dit is al amper 18 maande sedert hulle met die forensiese ondersoek begin het, wat op aarde moet nog ondersoek word?”

Vergoeding as voorsitter

Van die kontrakte met hom wat geopenbaar word, sluit in wat met sy vergoeding verband hou.

In die jaarverslag word getoon dat daar in die boekjaar ’n totale bedrag van €1,764 miljoen (R28,1 miljoen) betaal is aan Wiese vir sy dienste as voorsitter en die entiteite wat hy beheer.

Daarvan was €300 000 (R4,8 miljoen in vandag se wisselkoers) die vergoeding wat in die oorsigtyd aan hom as direkteur betaal is.

In die vorige boekjaar (15 maande) is hy en sy entiteite €1,98 miljoen betaal.

Daar is geen uiteesetting van wat die totale betaling behels in die vorige jaarverslag gegee nie.

Die vliegtuig

’n Deel van die bedrag wat aan Wiese-entiteite betaal is in die 2017-boekjaar, hou verbang met ’n kontrak wat die maatskappy Steinhoff at Work gesluit het met Toerama, wat ook deur Wiese beheer word.

Toerama het ’n vliegtuig aan die besturende direkteure en ander senior bestuurslede beskikbaar gestel om mee te reis.

Die ooreenkoms is op 1 Oktober 2016 gesluit. Die straler word as ’n Boeing Business Jet B737-72U beskryf.

“Die bedoeling was dat Steinhoff at Work net sou betaal vir die koste van die gebruik en nie vir Toerama om wins te maak nie,” lui die jaarverslag.

Toerama is ’n uurlikse tarief van €19 631 (R315 980) (BTW uitgesluit) betaal.

Teen einde September 2017 was ’n bedrag van €844 320 (R13,5 miljoen) aan Toerama betaalbaar.

Die kontrak is beëindig op die dag toe Wiese as direksielid bedank het.

Onder die hofie “gebeure ná die oorsigtyd” elders word gesê dat Steinhoff at Work op 1 Oktober 2017 ’n ooreenkoms met Toerama aangegaan het om ’n vliegtuig, ’n Falcon 900C, vir €4,2 miljoen te koop.

Einde Mei 2018 het Steinhoff at Work en Toerama ’n tweede ooreenkoms gesluit met Steinhoff Africa as ’n party waarvolgens Toerama ’n alternatiewe koper vir die vliegtuig soek.

Huur, dienste

Die totale bedrag wat Wiese en entiteite ontvang het, sluit ook geld in wat betaal is ingevolg ’n kontrak wat Steinhoff at Work gesluit het met Titan, wat deur Wiese beheer word, vir die “verskaffing van sekretariële, administratiewe en kantoorbestuursdienste” aan Steinhoff. Dit het ook die huur van ’n deel van Titan Financial Services se perseel en infrastruktuur ingesluit – “alles in verband met die uitvoer van Wiese se pligte as voorsitter van die toesighoudende direksie”.

Hiervoor is €150 000 betaal.

steinhoff
Tydens 'n vorige aanbieding van Steinhoff toe Christo Wiese (heel links) nog voorsitter van die maatskappy was. Langs hom is Ben la Grange, vorige finansiële hoof wat later as uitvoerende hoof van Steinhoff Africa Retail bedank het, en Markus Jooste. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die kontrak is beëindig toe Wiese bedank het.

Daarbenewens is €497 237 aan Chaircorp betaal “ten opsigte van bestuursdienste wat deur Wiese verskaf is”.

Die totale bedrag het ook ingesluit ’n kontrak met Grene Properties, wat deur Wiese beheer word, vir die “verskaffing van direkteursdienste” aan Steinhoff, insluitende sy dienste as voorsitter. Hiervoor is €300 000 ingevolge die kontrak betaal, wat beëindig is toe hy op 14 Desember bedank het. Dit is gelyk aan die Wiese se betaling as direkteur.

Wiese het by navraag oor baie van die inligting gesê hy gaan nie kommentaar lewer op hoe die verslag geïnterpreteer word nie.

Nog nie terugbetaal

Elders in die jaarstate ook onder die hofie “gebeure ná die verslagtyd” word getoon dat Wiese nog nie die €200 miljoen (R3,2 miljard in vandag se wisselkoers) terugbetaal het wat hy laat in 2017 by Steinhoff gekry het as ’n vooruitbetaling vir ’n transaksie wat nog moes plaasvind nie.

Die vooruitbetalings het verband gehou met ’n transaksie wat Steinhoff se filiaal Pepkor met Shoprite sou doen om Wiese se belang te bekom.

Die transaksie is gekanselleer in Desember 2017 weens die gebeure by Steinhoff.

Die “vooruitbetalings” is eers in April verlede jaar openbaar gemaak.

Op die jaarvergadering van Steinhoff verlede jaar het Louis du Preez, uitvoerende hoof, gesê “sowel die toesighoudende as besturende direksie se korporatiewe en openbaarmakingsprosesse is nie gevolg met die transaksies nie”.

In die jaarstate is niks gesê daaroor nie. Steinhoff het nie op vrae hieroor gereageer nie.

Dit hou waarskynlik daarmee verband dat dit gebeure na die verslagtyd was.

In die jaarverslag word verwys na die transaksie wat sou plaasvind met Shoprite wat misluk het en in die proses is vooruitbetalings van €125 miljoen en €200 miljoen in Oktober en November 2017 aan entiteite verwant aan hom betaal.

In die jaarstate word gesê in Februarie 2018 is “ooreenkomste gesluit in terme waarvan €125 miljoen vereffen is”.

“Die balans van die €200 miljoen plus rente gaan ingevolge ’n ooreenkoms betaal word. Die entiteite wag vir regulatoriese goedkeuring om dit te bewerkstellig.”

Wiese is onlangs daaroor uitgevra en ook hy het bevestig dat die geld nog nie terugbetaal is nie, maar dat daar ’n ooreenkoms is ingevolge waarvan dit gaan gebeur.

Hy het verlede jaar in die media oor die vooruitbetaling verduidelik. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.