Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só plaas pandemie druk op Standard Bank
Standard Bank verwag ’n beduidende daling in wesensverdienste per aandeel wanneer hy sy halfjaarresultate in Augustus bekend maak. Foto: Bloomberg

Die impak van die Covid-19-pandemie op huishoudings se geldsake tesame met ’n buitelandse transaksie het groot druk op Standard Bank se syfers geplaas.

Boonop het waardeverminderings op sekere IKT-bates, die bank se resultate vir die ses maande tot einde Junie verder nadelig beïnvloed.

Die bank sê Woensdag in ’n handelsverklaring op Sens hy verwag dat sy wesensverdienste per aandeel vir die tydperk tussen 30% en 50% laer gaan wees as ’n jaar gelede.

Die bank verwag ’n wesensverdienste van tussen R4,18 en R5,86 per aandeel. Dit is teenoor die R8,37 van ’n jaar tevore.

Hy verwag dat sy verdienste per aandeel met tussen 60% en 80% gaan daal. Hy verwag dat dit tussen R1,65 en R3,30 per aandeel gaan wees. Dit is teenoor die R8,27 van ’n jaar tevore.

Die rede vir die verskil tussen die wesensverdienste per aandeel en verdienste per aandeel is dat die verkoop van Standard Bank se belang van 20% in ICBC Argentinië ’n uitwerking gehad het.

Standard Bank verduidelik toe hy die belang aan die Industrial and Commercial Bank of China (ICBC) verkoop het, is die prys in Amerikaanse dollar bepaal.

Die rand het sedert die transaksie beklink is beduidend teenoor die dollar verswak. Dit het meegebring dat Standard Bank in rand méér uit die transaksie verdien as wat verwag was. Die opgehoopte omrekening in buitelandsevalutareserwe op die debietsaldo was hoër.

Standard Bank sê in die verklaring dié verwikkeling word nie ingereken wanneer wesensverdienste per aandeel bereken word nie, maar wel wanneer verdienste per aandeel bereken word.

Wat betref bedrywighede in Suid-Afrika, sê die bank dat die staat van inperking het die aantal transaksies waaruit hy gelde verdien veral onder die strenger vlakke van die staat van inperking, erg geknou.

Selfs nadat regulasies verslap is, sê die bank het transaksievolumes steeds nie herstel tot vlakke soos wat hy voorheen ervaar het nie.

Die bank sê hy sal meer besonderhede oor die waardevermindering wat betref IKT-bates gee wanneer hy sy resultate vir die halfjaar op 20 Augustus bekend maak.

Standard Bank verhandel Woensdag 4% hoër teen R117,41 op die JSE.

Meer oor:  Standard Bank  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Bankwese  |  Resultate  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.