Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
So staan Spur leeg tydens 2de vlaag

Die tweede vlaag van die koronaviruspandemie het duidelik Suid-Afrikaners se aptyt vir Spur en sy pienk sous geknou.

Rocomamas
RocoMamas se verkope het met die minste gedaal van al die restaurante in die Spur-groep.

In ’n handelsverklaring Vrydag sê die restaurantgroep, wat ook RocoMamas en The Hussar Grill besit, die ses maande tot einde Desember was verskriklik moeilik.

Hy skryf dit toe aan onder meer die laer besteebare inkomste van baie Suid-Afrikaners en die strenger vlak 3- inperkingsmaatreëls wat in Desember ingestel is. Dit het restaurante in brandpunte gedwing om reeds saans om 20:00 hul deure te sluit en het drankverkope verbied.

Vir Spur is Desember die belangrikste maand op sy kalender. Vanjaar het geen Kersvreugde egter gematerialiseer nie.

Die groep het in die ses maande, die eerste helfte van sy 2021-boekjaar, ’n daling in verkope van 29,5%, tot slegs R2,9 miljard, ervaar. Verkope was in die vorige jaar se selfde periode R4,1 miljard.

In Suid-Afrika het verkope met 31% gedaal terwyl verkope in buitelandse markte met 17,3% gedaal het. Suid-Afrika se strenger inperkingsmaatreëls het baie hiermee te doen.

Die groep sê verkope het op ’n maandgrondslag verbeter vir die eerste vier van die ses maande tot einde Desember.

Tot en met Oktober 2020 het dinge nog goed gelyk.

Eers toe die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie getref het, het verkope weer begin daal.

RocoMamas daal die minste

Maar nie alle restauranthandelsmerke in Spur se portefeulje het ewe veel gesukkel nie.

  • Spur self het in die ses maande tot einde Desember ’n daling van 31% in verkope ervaar.
  • Panarottis en Casa Bella het ’n daling van 36,6% ervaar.
  • Die grootste daling in verkope was egter by John Dory’s, ’n seekosrestaurantgroep, wat 40,1% minder verkope gehad het as ’n jaar tevore.
  • Spur se luukser braairestaurante, The Hussar Grill, het ook gebuk gegaan onder die tweede vlaag en verminderde verkope van 37,6% gehad.
  • RocoMamas, aan die ander kant, het die storm baie beter getrotseer en slegs ’n daling in verkope van 15,3% gehad vir die periode.
  • By Nikos Coalgrill, die Griekse restaurant in Spur se besit, het verkope met 34,5% gedaal.

Val Nichas, nuwe uitvoerende hoof van die maatskappy, het in die verklaring die aandag probeer vestig op die goeie verkope van Oktober.

Nichas het egter gebieg dat die inperking verwoesting gesaai het onder die res van die maande se handel.

“Die werklikheid van ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies wat in Desember 2020 in Suid-Afrika momentum gekry het, het egter die regering se herinstelling van ’n nasionale aandklokreël en beperkings op sosiale aktiwiteite genoodsaak.

“Die instelling van die aangepaste regulasies vir vlak 3 van die staat van inperking aan die einde van Desember het ’n uitwerking op restaurantverkope gehad, met die nasionale aandklokreël wat handelsure beperk het. Die verbod op die verkoop van alkohol tesame met die streng vermindering van sitplekkapasiteit, het restaurantvoetverkeer verder verminder.

“Daarbenewens het die sluiting van strande onmiddellik ’n uitwerking op die handel in restaurante in kusstreke, waar Desember tradisioneel ’n sterk handelsmaand is, gehad.”

Spur sal op 2 Maart sy volle halfjaarresultate vir die ses maande tot einde Desember uitreik.

Meer oor:  Spur Corporation  |  Spur  |  Rocomamas  |  Staat Van Inperking  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.