Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só wil Christo Wiese met Brait maak

’n Plan broei tussen Christo Wiese, die grootste aandeelhouer in die beleggingsmaatskappy Brait, en ander aandeelhouers oor dié maatskappy.

Bloomberg berig Wiese is deel van ’n groep wat wil hê Brait moet R3 miljard insamel deur aandele uit te reik en bates te verkoop, insluitende die voedselvervaardiger Premier Foods, wat onder meer Blue Ribbon-brood en Snowflake-meel maak.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese is deel van ’n groep wat wil hê Brait moet R3 miljard insamel deur aandele uit te reik en bates te verkoop, insluitende die voedselvervaardiger Premier Foods. Foto: Getty Images

Brait besit ook ’n groot belang in die gimnasiumgroep Virgin Active.

Business Day het Donderdag berig die voorstel word genoem Projek Arbiter. Wiese het aan dié koerant gesê dit is een van talle voorstelle op die tafel.

Brait het nog geen aankondiging oor enige moontlike voorstel wat ontvang is op die JSE se nuusdiens uitgereik nie.

Wiese se beleggingsvoertuig Titan is saam die batebestuurder Mergence Investment Managers deel van die plan.

Die plan is om die huidige bestuur van Brait te verwyder.

Brait se aandeelprys het vroegoggend met 6% gestyg, maar was teen middagete net 2% hoër vir die dag.

Wiese en sy familie hou 46% van Brait.

“Ek word gereeld met geleenthede genader en ek is saam met Titan oor hierdie voorstel genader,” het Wiese gesê. “Daar is niks definitief nie.”

Die nuus kom nadat Brait se aandeelprys al vir langer as twee jaar onder druk is.

Een van sy groot beleggings, die Britse klerewinkelgroep New Look, het ernstige probleme.

Einde 2015 het Brait se aandeelprys sy hoogste vlak van R170 bereik en dit staan nou op R14,61. Sedert die begin van die jaar het die aandeelprys gehalveer.

Die ander belange wat Brait besit sluit in die Britse kruidenierswaregroep Iceland.

In die voorstel word daarna verwys dat ’n “apart genoteerde Virgin Active die maatskappy in staat sal stel om vir groei te belê”.

Van die nuwe direkteure wat Wiese-hulle voorstel sluit in Brian Myerson, aktivisbelegger van Suid-Afrika wat in 2010 vir drie jaar deur die Britse reguleerder verban is om oornames te doen.

Brait het gesê teen Donderdag is nog geen voorstelle van Mergence Investment Managers, Arbiter of Brian Myerson gekry nie.

“Brait bly verbind tot sy beleggingstrategie, om sy skuld wesenlik te verminder en die vertoning van sy maatskappye te verbeter,” het ’n woordvoerder by navraag gesê.

Mergence het in reaksie op vrae van Netwerk24 gesê hy kan nie bevestig of die inligting net spekulasie is nie.

Mergence besit 4,5% namens kliënte in Brait.

– Bloomberg, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.