Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só wil Mediclinic (buite hospitale) in SA groei

Die hospitaalgroep Mediclinic verwag nie dat die mededingingsowerhede in Suid-Afrika sy planne sal beperk om uit te brei na ander gesondheidsdienste buite hospitale nie.

Die nuwe Mediclinic-hospitaal in Stellenbosch het 95 beddens, maar daar is plek vir 160 beddens. ’n Daghospitaal op dieselfde perseel het 20 beddens. Die eiendom word gehuur. Foto: Verskaf

Die vraag is hoe Mediclinic en die ander twee groot hospitaalgroepe in die land, Netcare en Life Healthcare, gaan uitbrei gegewe die regulatoriese omgewing wat geskep is deur die markondersoek oor die private gesondheidsorgbedryf. Die finale verslag daaroor is onlangs uitgereik.

Een van die aanbevelings in die verslag is dat die Mededingingskommissie kruipende samesmeltings (groei deur kleiner verkrygings) strenger moet beheer.

Die Mededingingstribunaal het reeds vanjaar Mediclinic se voorgenome verkryging van hospitale in Klerksdorp, Noordwes, verbied. Die groep het geappelleer en ’n uitspraak daaroor word afgewag.

Ontleders wou by die aanbieding van die groep se resultate vir die halfjaar tot einde September weet of Mediclinic ook uitbreiding na radiologie oorweeg.

Dit is omdat Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof, in die verklaring oor die resultate gesê het al drie die streke van die groep (Switserland, Suider-Afrika en die Midde-Ooste) “gaan voort om die bedrywighede van kern- akute sorg aan te vul deur uitbreiding regoor die spektrum van gesondheidsorg. Die inisiatiewe vir groei waarin ons as ’n groep belê, of saamwerk met vennote, sluit in dagklinieke, primêre sorg, sub-akute hospitale, radiologie, presisie-medisyne, IVF (vrugbaarheidsbehandeling) en digitale gesondheidsorgoplossings.”

Boonop het Life Healthcare in Mei oor sy planne om wyer as hospitaalversorging uit te brei, gesê hy beplan om in 2020 ook in radiologie in Suid-Afrika betrokke te raak.

LEES OOK: Hospitaal wil mense sonder medies só help

Die wyer uitbreiding van gesondheidsorgdienste is deel van Van der Merwe se nuwe strategie en strategiese doelwitte vir die groep wat opgestel is sedert hy in Junie 2018 in die pos is.

Op die vraag oor radiologie het hy gesê dit is ’n groot deel van hul bedrywighede in die Midde-Ooste en Switserland. Dieselfde geld patologie in dié lande.

“In Suid-Afrika is ons om verskeie strukturele redes nie daarby betrokke nie. Ons het ’n baie noue verhouding met die radiologiepraktyke binne ons hospitale, en indien daar in die toekoms ’n geleentheid hom voordoen, deur onderlinge ooreenkomste, sal ons bereid wees om daarna te kyk. Maar daar is niks belangrik op die oomblik nie.”

Hy het aan Netwerk24 gesê die bedryf is te gefragmenteerd in Suid-Afrika om betrokke te raak.

Oor waar daar geleenthede gesien word, gegewe die regulatoriese omgewing, het hy gesê hulle glo ten opsigte van hospitale en lisensies is hulle beperk weens hul grootte, “maar ten opsigte van ander verwante ondernemings oor die spektrum van sorg, verwag ons nie groot probleme om toestemming te kry om daarin te belê nie, omdat ons ’n baie klein posisie, indien enige, daarin het”.

Volgens hom sal Mediclinic in hierdie stadium daarop fokus om met Intercare oor die spektrum van sorg heen uit te brei. Mediclinic het ’n meerderheidsbelang in Intercare bekom en die transaksie is in Desember 2018 deurgevoer en in werking gestel.

LEES OOK: Mediclinic gee eerste tree na primêre gesondheid

Intercare is in daghospitale en primêre gesondheidsorg betrokke deur sy mediese en tandarts-sentrums.

Dit is danksy die byvoeging van Intercare dat Mediclinic weer vir die eerste keer in drie jaar meer pasiënte gekry het, nadat mediese fondse se ledetal nie juis gegroei het nie.

“Ons glo gegewe die gefragmenteerde gesondheidsorg is daar geleenthede in ander instellings van sorg, soos primêre en sub-akute sorg.”

Jurgens Myburgh, finansiële hoof, sê Mediclinic gaan nie ’n nuwe hospitaal in die komende vyf jaar bou nie. Bestaande hospitale sal net opgradeer word. Volgens hom hou dit met die vraag en aanbod verband wat hulle glo nou in balans is.

Mediclinic se inkomste in Suider-Afrika het in die halfjaar met 7% gestyg. Dit is danksy die beddae wat verkoop is wat met 2,7% gestyg het, en die inkomste per beddag wat 4% hoër is.

In geheel het die groep se inkomste met 9% tot £1,5 miljard gestyg en sy aangepaste bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering met 4% tot £222 miljoen.

Die tussentydse dividend is onveranderd op 3,20p per aandeel gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.