Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só wil SA vinnig 10 000 ventilators bou
ventilator
'n Man gekoppel aan 'n ventilator. Foto: Getty Images

Die ingenieurs wat verantwoordelik is vir die wêreldbekende MeerKAT-radioteleskoopprojek, het begin met ’n dringende projek om 10 000 ventilators teen einde Junie vir die land te laat bou.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid en mededinging, het die Suid-Afrikaanse Radio-Astronomiese Sterrewag (Sarao), ’n bedryfseenheid van die Nasionale Navorsingstigting, opdrag gegee om die Nasionale Ventilator-projek te bestuur.

Willem Esterhuyse, Sarao se hoof van ingenieurswese, is die projekbestuurder. Hy was ook die projekbestuurder van die MeerKAT-projek, ’n radioteleskoop wat uit 64 skottel-antennas bestaan, wat in die Noord-Kaap opgerig is om navorsing oor die sterrestelsel te doen.

LEES OOK: ‘Teleskoop-bou is nie huisbou nie’

Die ventilator-projek behels die ontwerp, ontwikkeling en produksie van ventilators en die tydlyn daarvoor is baie kort.

Vervaardigers is op Vrydag 3 April om 22:00 genooi om daaraan deel te neem en Maandag is ’n inligtingsessie hieroor gehou. Voorstelle moes reeds teen Maandag om 23:00 ingedien wees en Dinsdag is die beste voorstelle gekies. Voorleggings oor die beste projekvoorstelle is Woensdag gehou.

Esterhuyse en sy span sif nou hierdeur.

’n Mediese span het die tipe ventilator geïdentifiseer wat die meeste pasiënte wat weens Covid-19 gehospitaliseer moet word, sal kan help.

Die produksieteikens is om so gou moontlik – voor die einde van April – met produksie te begin en teen einde Mei reeds 1 500 ventilators te lewer.

Teen einde Junie moet die projek 10 000 ventilators lewer en dit moet die vermoë hê om vervaardiging uit te brei om nog 50 000 of meer te kan lewer.

Dié tipe nie-ingrypende ventilasiestelsel lewer ’n mengsel van lug en suurstof onder druk aan die pasiënt deur ’n masker of tipe helmet. Dit verseker dat die pasiënt meer suurstof inkry en hou die lugdruk in die lugweg en longe hoër as die lugdruk in die vertrek om asemhaling te vergemaklik.

Hulp met ontwikkelingsproses

Patel het begin April in ’n brief aan dr. Rob Adam, besturende direkteur van Sarao, gesê die departement word oorval met voorstelle van maatskappye en individue wat ’n oplossing vir die ventilatortekort wil bied.

Patel het gesê ’n gestruktureerde proses is nodig om die spesifikasies vas te stel en die proses te bestuur.

“Weens die erns van die situasie, en ná konsultasie met minister Blade Nzimande (minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie), het ons besluit om ’n entiteit aan te stel om die departement met die ontwikkelingsproses te help.”

Volgens Patel is Sarao gekies vanweë die ervaring wat die eenheid het met die ontwikkeling van die komplekse stelsels vir die MeerKAT-radioteleskoop.

MeerKAT word as die grootste en kragtigste radioteleskoop ter wêreld beskryf.

Esterhuyse het op die inligtingsessie wat oor Zoom aangebied is, gesê omdat die projek onder tydsdruk gedoen moet word, is burokrasie sover moontlik weggestroop ten einde ontwerpe so gou moontlik op die tafel te kry en met produksie te begin.

Hy het verwys na die uitnodiging om aanbiedings te maak wat so laat Vrydagnag uitgereik is met ’n spertyd wat reeds Maandagnag gesluit het. “Dit is ’n baie kort tyd, maar ons almal besef tyd is van kernbelang.”

Die doel is om ’n ventilator te ontwerp wat soveel moontlik mense kan help. “Ons weet daar is ’n behoefte vir meer gevorderde ventilators, maar dit is nie deel van die omvang van dié projek nie,” sê Esterhuyse.

Vinnig, eenvoudig, bekostigbaar

Die plan is nie om ’n bestaande toestel te repliseer nie, maar om iets te kry wat vinnig en eenvoudig ontwikkel kan word en die meeste mense kan bereik.

Dit moet bekostigbaar en betroubaar wees en daar moet vinnig met die produksie begin kan word. Dit moet min instandhouding benodig en nie veel opleiding vir die gebruik daarvan verg nie.

“Tradisioneel het ventilators kundiges nodig. In dié geval gaan dit nie nodig wees nie. Iemand wat matriek het, moet dit kan gebruik nadat hulle na ’n YouTube-video gekyk het.”

Staatsgeld as sulks gaan dit nie finansier nie, maar die Solidariteitsfonds wat pres. Cyril Ramaphosa bekend gestel het, sal een bron van finansiering wees.

Hoewel aankope op ’n noodgrondslag gedoen sal word, sal die Wet op die Bestuur van Openbare Finansiering toegepas word.

Esterhuyse het aan die einde van die inligtingsessie gesê hy hoop almal wat aan die projek deelneem, het die regte ingesteldheid. “As ons dit nie doen nie, gaan ons groot probleme in ons land hê en baie skade gaan aangerig word. Dit moenie gaan oor wins of persoonlike gewin nie, dit moet daaroor gaan om ’n verskil aan die land en die wêreld te maak,” het hy gesê.

Meer oor:  Meerkat  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Gesondheidsorg  |  Ventilators
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.