Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só wil Woolies prys van sy hoender in toom hou
Woolworths gaan hoendervleispryse eerste verlaag en begin met prysverlagings wat R250 miljoen in die huidige boekjaar tot einde Junie 2021 gaan beloop.

As jy daarvan hou om kos by Woolworths te koop, maar sy pryse skrik jou af, sal jy bly wees om te hoor dié winkelgroep besef hy moet nou ’n plan maak.

Die winkelgroep belowe R1 miljard gaan in die pryse van produkte op sy winkelrakke in die komende twee tot drie jaar “belê word” en die grootste deel daarvan, R750 miljoen, word vir sy koswinkels beoog.

’n Prysbelegging beteken die pryse van sekere produkte gaan daal.

Dit beloop sowat 2% van die omset van R35,8 miljard wat Woolworths Food in die afgelope boekjaar tot einde Junie gemaak het.

Zyda Rylands, uitvoerende hoof van Woolworths in Suid-Afrika, sê die groep het ’n paar jaar gelede begin met sy “reis van prysbeleggings” om beter pryse aan te bied op belangrike produklyne en -kategorieë. Sy sê die planne met pryse is nou weens die impak van die pandemie op die ekonomie en verbruikers versnel sodat die groep “relevant en toeganklik bly”.

Sy sê die prysbelegging wat beloof word, word bewerkstellig met kostebesparings wat saam met verskaffers geïdentifiseer is wat uit verdere bedryfsdoeltreffendheid soos in die vooraadketting verkry kan word.

“Die meeste van die besparings wat hieruit bewerkstellig word, gaan ons aan ons klante deurgee.”

Hou aan groei

Roy Bagattini, nuwe uitvoerende hoof van die groep, het in September toe die resultate vir die boekjaar uitgereik is, gesê Woolworths Food het ononderbroke sy markaandeel sedert September 2011 verhoog.

’n Belangrike rede vir die groei hou verband met die gehalte van sy produkte, innovasie, produkontwikkeling met kos en die aanbod van vars produkte.

“In enige gegewe jaar is tot 20% van ons produkte nuut of verbeter. Innovasie is in ons DNS en is deel van ons kultuur. Dit is iets wat nie maklik deur ons mededingers gerepliseer kan word nie en iets wat ons onderskei van hulle.”

Bagattini sê die groep wil nie net sy markaandeel verder uitbrei nie, maar dit ook beskerm.

“Ons besef egter ons moet ons aanbod meer toeganklik maak vir meer klante, terwyl ons steeds getrou bly aan ons DNS.”

Een manier om dit te doen is om meer gerief aan verbruikers te bied met ’n verskeidenheid winkelformate en -kanale.

Die ander manier is die belegging in pryse.

Hoendervleis word goedkoper

Hy sê Woolworths besef daar is geleenthede in sekere kategorieë van kos om meer verbruikers na sy winkels te lok.

“Ons gaan meer gefokus raak in hoe ons die prysbelegging ontplooi. Daar is sekere voedselkategorieë waar ons voel sekere dele van ons klante nie werklik aan deelneem nie omdat hulle die pryse as ’n mate van ’n hindernis sien.

“Ons gaan pryse daar verander om dit meer bekostigbaar te maak vir sekere dele van ons klantebasis.”

Hy sê hoendervleis is een van dié kategorieë, asook sy bakkery- en suiwelprodukte.

Die eerste fase van die beloofde plan met pryse begin in die boekjaar wat in Julie begin het en sal R250 miljoen in kos en R250 miljoen in klere behels.

Daar sal op die gewildste produkte gefokus word, soos die hele reeks vars hoender, heel hoender en porsies ingesluit, asook die Easy to Cook- en krummelkors- en gemarineerde hoender.

“Die nuwe pryse sal aanvanklik die sigbaarste wees in ons hoendervleisprodukte, maar ons gaan ook meer promosies aanbied op basiese kruideniersware, huishoudelike en persoonlikesorgprodukte om dit meer bekostigbaar te maak vir klante,” sê Rylands.

In die klerewinkels sal daar op sekere gewilde items vir ’n gemiddelde klerekas gefokus word.

“Ons prysbeleggingsreis oor die volgende drie jaar sal ons help om ons klante by te staan wat diep bekommerd is oor die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie op die land en hul begrotings,” sê sy.

Wat behels prysbeleggings?

Die term prysbelegging hou verband met winsmarges wat opgeoffer word om meer mededingend te wees.

Dit is ’n erkenning dat die prysomgewing verander het en dat pryse permanent op laer vlakke gehou moet word. Tensy uitgawes ook daal, beteken dit wins kan onder druk kom.*

Volgens Zoowun Retail Insights het Woolworths se bruto winsmarge die afgelope jare reeds gedaal terwyl hy die belegging in pryse gemaak het.

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, sê kleinhandelaars “laat dit klink asof hulle die verbruiker ’n guns doen ten koste van hulself, maar pryse gaan beslis nie sommer net verlaag word nie.”

“Die bedryfsgeleenthede wat Woolworths die afgelope maande geïdentifiseer het om groter doeltreffendheid mee te bereik, sal beteken dat pryse op sekere produkte verlaag kan word sonder dat winsmarges prysgegee word.”

* Bron: ProduceBusinessUK

Meer oor:  Woolworths Food  |  Woolworths  |  Kospryse  |  Hoender  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.