Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit: ‘Amsa stuur af op tweede Highveld’

Die staalgroep ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se voorstel om meer as 2 000 mense af te lê, “is erger as toe Highveld Steel gesluit is,” sê Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris.

ArcelorMittal Suid-Afrika se aanleg in Vanderbijlpark, Gauteng. Foto: Amsa

Dié staalvervaardiger het in Februarie 2016 sy laaste 1 741 werkers huis toe gestuur toe hy nie meer kop bo water kon hou nie.

Amsa het Woensdag in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig dat hy grootskaalse herstrukturering moet doen. ’n Art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge is reeds begin.

Amsa sê egter glad nie watter en hoe sy aanlegte geraak gaan word nie. ’n Woordvoerder het Donderdag by navraag aan Netwerk24 gesê die maatskappy “respekteer die konsultasieproses” en kan daarom nie nou spesifieke inligting verskaf nie.

Croucamp het ook bevestig dat die vakbond geen idee het watter aanlegte beïnvloed gaan word nie.

Amsa het tans nagenoeg 8 800 werknemers, wat beteken byna ’n vyfde kan hul werk verloor.

“Dit is baie slegte nuus en sake lyk nie goed nie,” sê Croucamp. “Ons is al geruime tyd in gesprek met Amsa en ons weet sy finansies is beroerd.”

Amsa het Woensdag in die handelsverklaring gewaarsku sy wesensverdienste gaan met R650 miljoen daal tot ’n wesensverlies in die halfjaar tot einde Junie. Sy nabelaste verlies per aandeel gaan sowat 64c wees.

Croucamp sê die vier groot probleme wat die staalvervaardiger teister, is die Suid-Afrikaanse ekonomie wat onder druk is; hoë kragpryse; die instelling van die koolstofbelasting; en staalinvoer.

“Ons ondersteun ongetwyfeld ’n groen omgewing. Die tydsberekening wat betref die instelling van koolstofbelasting is net baie sleg vir die sektor,” sê hy.

Die nuwe Wet op Koolstofbelasting het op 1 Junie in werking getree.

Croucamp waarsku dat dit Amsa honderde miljoene rande kan kos.

Hy sê verder groot vervaardigers soos Amsa kan bloot nie die groot stygings in kragtariewe bekostig nie.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het Eskom in Maart toegelaat om tariewe in 2019 met 9,4% te verhoog, gevolg deur 8,1% en 5,2% in die daaropvolgende jare.

Amsa probeer al geruime tyd om ’n ooreenkoms vir spesiale kragtariewe met Eskom te sluit. Dit is steeds nie gefinaliseer nie.

LEES OOK: Dís ons probleme met Eskom

Wat betref staalinvoer, sê Croucamp hulle verwelkom die stappe wat die regering reeds gedoen het deur invoertariewe op sekere produkte te verhoog, maar duisende ton goedkoop Chinese staal stroom steeds die land in.

Cobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, het in Februarie gesê dat daar in 2018 steeds 769 000 ton staal na Suid-Afrika ingevoer is. Die meerderheid hiervan het van China gekom.

Croucamp sê die staat sal regtig na die probleem moet kyk en invoer selfs nóg strenger moet beheer om die plaaslike sektor te beskerm.

Hy sê later in ’n verklaring: “Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat sy lede wat deur die proses geraak word, die voorgestelde skeidingsvoordele en die nodige steun in hierdie moeilike tyd ontvang.”

Amsa se aandeleprys op die JSE het teen 13:00 met 6% tot R2,73 op die JSE gedaal.  

  • Highveld Steel het in Junie 2017 weer sy deure deels oopgemaak toe hy begin het om strukturele staal namens Amsa te vervaardig. Nagenoeg 200 werkers is toe weer by die aanleg aangestel.
Meer oor:  Highveld Steel  |  Amsa  |  Marius Croucamp  |  Solidariteit  |  Staalbedryf  |  Afleggings  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.