Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit begin met protes teen belasting

Solidariteit gaan vandeesweek ’n hofaansoek bring om die SAL in sakeredding te laat plaas.

Solidariteit gaan in die hof vra dat die SAL in sakeredding geplaas word. Foto: Argief

Volgens Solidariteit gaan die SAL-saak die grootste belastinghofsaak tot nog toe in Suid-Afrika wees.

Dit is deel van wat Solidariteit noem ’n veldtog van “wettige belastingprotes” wat hy hierdie week begin.

Die protes sluit ses regsgedinge teen staatsondernemings en belastingplunderaars in.

Die grootste saak gaan die aansoek om sakeredding teen die SAL en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wees.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wou hulle sowat ’n jaar gelede ’n soortgelyke saak teen die SAL bring, maar die voormalige uitvoerende hoof, Vuyani Jarana, het verskeie beloftes aan hulle gemaak.

“Dié beloftes is egter nie nagekom nie en Jarana is weg. Ons moet volhoubare werk by die SAL beskerm. Ons het by Denel gesien wat met werkers gebeur as daar te lank op ’n sakereddingsaansoek gewag word.

“Dit sal die eerste keer wees dat ’n sakereddingsaansoek teen ’n staatsonderneming gebring word. Dis een van die ingrypendste aksies van belastingbetalers om hul eie belastinggeld te beskerm. Die werk van ons lede en belastingbetalers se geld in die SAL is te waardevol om die lugredery finaal te laat neerstort,” het Hermann luidens ’n verklaring gesê.

Wat ook hierdie week gebeur:

  • Solidariteit gaan hierdie week dringende hofstukke op die sukkelende wapenvervaardiger Denel beteken om hom te dwing om werkloosheidsversekering en belasting wat van werknemers afgetrek is, oor te betaal.
  • Solidariteit het ook met ’n proses ingevolge artikel 165 van die Maatskappywet begin om wanbestuur en korrupsie van voormalige direkteure van Denel te ondersoek, met die oog op moontlike vervolging.
  • ’n Soortgelyke artikel 165-proses gaan ook saam met Sakeliga by Eskom gevolg word. Dit kan groot implikasies vir voormalige direkteure van Eskom, soos Brian Molefe, inhou. Soortgelyke aansoeke teen ander direkteure by ander staatsondernemings kan volg.
  • Solidariteit gaan ook vra dat adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid met ’n proses van private vervolging teen Molefe begin. Dit volg nadat die nasionale vervolgingsgesag nog geen stappe teen Molefe gedoen het ná Solidariteit se klagte van bedrog teen hom nie. Solidariteit en Molefe is ook eersdaags in die konstitusionele hof oor Molefe wat gelde aan Solidariteit verskuldig is nadat die hof in Solidariteit se guns bevind het dat Molefe hom onregmatig uit Eskom se pensioenfonds verryk het.

Solidariteit het ook reeds ’n kostebevel teen Hlaudi Motsoeneng, voormalige SAUK-hoof, gekry ná ’n hofuitspraak ten gunste van die SAUK-8. Die stryd teen Motsoeneng is tot in die konstitusionele hof gevoer en met die uitsondering van R20 000, is al Solidariteit se geld deur Motsoeneng terugbetaal.

“Dit is tyd dat belastingbetalers oorgaan tot aktiewe, wettige belastingprotes. Suid-Afrika moet die krag van belastingaktivisme ontdek,” het Herman gesê.

Hy meen dit is soortgelyk aan wat met die protes oor e-tol gebeur het.

“Belastingprotes hoef (egter) nie weerhouding in te sluit nie. Belastingbetalers kan saamstaan en van regsinstrumente gebruik maak om die staat en belastingplunderaars tot verantwoording te bring,” het hy gesê.

Solidariteit beplan om duisende belastingbetalers te mobiliseer om betrokke te raak by die belastingprotes en om etlike miljoene rande deur skarefinansiering in te samel.

’n Spesiale webblad is op www.solidariteit.co.za geskep.

Volgens Hermann onderskat belastingbetalers hul krag. Die staat werk nie met sy eie geld nie, maar met die geld van belastingbetalers.

“Verkiesings is nie die enigste manier waarop die staat verantwoordbaar gehou kan word nie. Daar is verskeie regsinstrumente wat gebruik kan word. Dis nie dislojaal om wettige instrumente vir verantwoordbaarheid te gebruik nie. Dis juis lojaal teenoor belastingbetalers en gewone Suid-Afrikaners, arm en ryk, wit en swart wat goeie infrastruktuur en dienste van die staat verwag en geregtig is daarop.”

Meer inligting oor die verskillende sake sal in die volgende maand bekend gemaak word.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sal  |  Denel  |  Sakeredding  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.