Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit gaan SAL-sakeredding fyn dophou

Die vakbond Solidariteit gaan die sakereddingsproses van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) baie fyn dophou.

Dr. Dirk HermannFoto: Elvira Wood

Hoewel die departement van openbare ondernemings se besluit om Donderdag aan te kondig dat die lugdiens reeds van 5 Desember in sakeredding is, as ’n vrywillige besluit beskryf word, word daar alom gesê dat dit eerder Solidariteit se hofaansoek was wat die regering gedwing het om dié stap te doen.

Solidariteit het op 21 November aangekondig hy het ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om die lugdiens in sakeredding te plaas.

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, sê Donderdagoggend in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 dat die vakbond verheug is oor die staat se besluit.

“Wat mense mooi moet verstaan, is dat hoewel die minister bevestig het die lugdiens word Donderdag vrywillig in sakeredding geplaas, is dit nog nie gedoen nie,” sê hy.

Hermann sê die regspanne van die departement, die tesourie en die SAL het Donderdagoggend tydens ’n vergadering saam met die adjunk-regterpresident van die hooggeregshof en Solidariteit bevestig die aansoek om sakeredding is nog nie by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ingedien nie.

“Die partye het egter ooreengekom dat sou hulle nie by hul woord hou en dit vandag doen soos wat wyd en syd belowe is nie, sal die hof Solidariteit se aansoek op 13 Desember aanhoor,” sê Hermann.

“Sou die aansoek wel ingedien word, beteken dit ons aansoek val weg.”

Wat mense mooi moet verstaan, is dat hoewel die minister bevestig het die lugdiens word Donderdag vrywillig in sakeredding geplaas, is dit nog nie gedoen nie.
Dirk Hermann

Hermann verduidelik ingevolge die Maatskappyewet kan ’n derde party nie voortgaan met ’n hofaansoek om sakeredding as die maatskappy vrywillig daarvoor aansoek doen nie.

Hermann sê hulle is egter vol vertroue die staat sal wel voortgaan met sy aansoek.

“Die oomblik wat dié aansoek by die CIPC ingedien is, moet ’n sakeredder binne vyf dae aangestel word.

“Dit is juis hier waar ons, saam met ander vakbonde, ’n groot sê wil hê oor wié aangestel moet word,” sê hy.

Hermann sê die vakbond is juis bekommerd oor hoeveel beheer die staat oor die sakeredder wil hê aangesien Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, selfs nog vóórdat ’n sakeredder aangestel is, dit op skrif gesit het wat die staat uit die proses wil sien kom.

“Daardie besluite is nie vir hom om te maak nie. Dit is die sakeredder wat dit moet doen,” sê hy.

“Waaroor ons bekommerd is, is dat die staat die sakeredder soos ’n marionet gaan wil beheer. Indien dit gebeur, gaan dit niks help om deur die proses te gaan nie,” sê hy.

Dit is nie net Hermann wat bekommerd is oor die onafhanklikheid van die sakeredder nie.

Stephen Grootes, omroeper op SAfm se Sunrise-program, het vroeg Donderdagoggend reguit vir Kgathatso Tlhakudi, waarnemende direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings, tydens ’n onderhoud gevra of die staat bewus is daarvan dat hy met sakeredding in der waarheid beheer oor die lugdiens gaan verloor én of die staat bereid is om dit te doen.

Tlhakudi het geantwoord die staat sal die sakeredder toelaat om sy of haar werk te doen.

Ander staatsondernemings

Op die vraag oor of Solidariteit dit nou sal oorweeg om druk op die staat te plaas om ander staatsondernemings soos Eskom of Denel óók in sakeredding te plaas, sê Hermann dit is nie onmoontlik nie.

“Ons het van die begin af gesê dat sou ons dit regkry om die SAL in sakeredding te plaas, dit ’n historiese gebeurtenis sal wees.

“Dit is nou ’n duidelike sein aan die staat dat belastingbetalers hul stem kan dik maak oor korrupsie en wanbestuur,” sê hy.

“Hierdie SAL-saak is niks anders as belastingprotes nie.

“Wat ons egter wys is dat jy nie onwettig hoef op te tree deur nié jou belasting te betaal nie, maar om as belastingbetaler jou regte uit te oefen,” sê hy.

Verskeie kenners wat onder meer Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep en Guy Leitch, ’n lugvaartkenner insluit, sê ook dit sal nou interessant wees om te sien wat met ander staatsondernemings gebeur wat hulself in dieselfde finansiële verknorsing as die SAL bevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.