Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit hervat regstappe teen Denel oor salarisse

Die vakbond Solidariteit gaan hom wel tot die hof wend om Denel te dwing om sy werknemers se salarisse ná byna drie maande te betaal.

Denel skuld sy werknemers al amper R450 miljoen en Solidariteit se geduld is nou op. Foto: Denel

’n Hofsaak sou aanvanklik op 30 Junie in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word. Dit is egter ter elfder ure van die rol verwyder toe Denel eerder om ’n fasiliteringsproses gepleit het om die geld in die hande te kry.

Denel het Solidariteit in daardie stadium bloot meegedeel dat daar doodeenvoudig geen geld is nie.

Denel se sowat 3 000 werknemers, van wie sowat 900 lede van Solidariteit is, verdien gesamentlik tussen R140 miljoen en R150 miljoen per maand.

Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, sê Woensdag in ’n verklaring dat die fasiliteringsproses geen vrugte afgewerp het nie.

“By implikasie sou die uitkoms gewees het dat Denel al sy agterstallige betalings sou inhaal en Solidariteit insette sou lewer ten opsigte van hoe hierdie uitkomste bereik sou kon word,” sê die vakbond.

“Daar blyk ’n totale gebrek aan toewyding te wees deur die direksie, die departement van openbare ondernemings en die tesourie wat die suksesvolle ommekeer van Denel betref,” sê Cronjé.

Denel se uitvoerende hoof, Danie du Toit, wat baie ondersteuning van sowel die vakbond as die werknemers geniet het, het vandeesweek sy bedanking aangekondig. Hy sal nog net tot 15 Augustus aan die hoof van die wapentuigvervaardiger wees.

Denel probeer al sedert sy kontantvloeikrisis in 2019 – toe hy drie maande lank sy werknemers se salarisse laat betaal het – sy omkeerplan as die antwoord vir sy talle probleme te bemark.

Deel hiervan is die privatisering van groot dele van die maatskappy en strategiese vennootskappe met die privaat sektor.

Maar ten spyte hiervan en ’n reddingsboei van R1,8 miljard van die regering in Oktober 2019, sukkel dié staatsonderneming steeds om bestellings na te kom en nou ook sy werkers te betaal, al werk hulle steeds.

Solidariteit reken jare se plundery deur die vorige bestuur by die staatsonderneming het onherroeplike skade aangerig wat die nuwe direksie en die regering nie aandag aan wil gee nie.

Denel het dit byvoorbeeld duidelik gestel dat hy R2,8 miljard van die staat af benodig om weer op dreef te kom – betreklik minder as die meeste ander staatsondernemings – en die regering het hom R1 miljard minder aangebied.

Geen verdere ondersteuning vir die omkeerplan is al beloof nie.

“Talle omkeerplanne is reeds deur die bestuur voorgelê, maar die direksie en die minister is nie bereid om verantwoordelikheid te aanvaar en die finansiële hulp soos benodig te bied nie,” sê Cronjé.

“Solidariteit het dus geen ander keuse as om met regsaksie voort te gaan nie.”

Volgens die vakbond sal Du Toit se bedanking verdere negatiewe gevolge vir die reeds sukkelende Denel inhou en tot verdere onsekerheid lei.

“Ons eerste en belangrikste prioriteit is om die belange van ons lede by Denel te beskerm. Hulle is lojale werknemers en ons kan nie toelaat dat hulle met hul salarisse vir die korrupsie en wanbestuur van die vorige bestuur boet nie,” sê Cronjé.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.