Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit mag beslag lê op Denel se bates

Die vakbond Solidariteit sal nou begin om op Denel se roerende bates beslag te lê. Dis om ’n deel van die geld vir die agterstallige salarisse vir sy lede te bekom nadat hulle amper ’n jaar laas ten volle betaal is.

’n Denel Cheetah-aanvalsvliegtuig staan op die aanloopbaan. Foto: News24

Solidariteit sê Donderdag hy het daarin geslaag om ’n hofbevel te bekom wat hom in staat stel om ingevolge ’n lasbrief van eksekusie op R12,7 miljoen se bates van die staat se wapentuigvervaardiger beslag te lê.

“Dit is ’n reuse-oorwinning vir ons lede, wat deur ’n tyd van ongekende onsekerheid en spanning moes gaan. Dit bied ons lede darem ’n geleentheid om asem te skep en hulle kan ’n sug van verligting slaak in die wete dat hul agterstallige salarisse op dié manier darem gedeeltelik gedek sal word,” het Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, verduidelik.

Solidariteit wys egter daarop dat dit net tydelike verligting aan die werknemers by Suid-Afrika se wapenvervaardiger bied en dat die geveg voortduur om van Denel ’n volhoubare en lewensvatbare onderneming te maak.

Cronjé het verduidelik dat die R12,7 miljoen net genoeg sal wees om ’n gedeelte te dek van die salarisse wat nie tussen Mei en Julie 2020 betaal is nie.

Werknemers is egter al sedert Julie nog net gedeeltes van hul salaris betaal en daar is nog geen aanduiding waar die geld vandaan gaan kom om die agterstallige salarisse te dek nie.

Volgens Cronjé is die R12,7 miljoen ook net genoeg om salarisse te dek – nié die derdepartybetalings en aftrekkings van werknemers se vergoeding wat ook agterstallig is nie.

Dit beteken werknemers se inkomstebelasting is steeds verskuldig aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vir die periode Mei tot Julie, asook hul aftrekkings vir mediese fondse, werkloosheidsversekering en pensioenfondse.

Dié statutêre gelde kan nie deur middel van ’n lasbrief vir eksekusie bekom word nie, het Cronjé verduidelik.

Hy het gesê hulle probeer die geld verseker deur middel van die steeds hangende saak om die direksie aan minagting van die hof skuldig te laat bevind.

LEES OOK: Denel: Zuma-man het Guptas ingetrek

Solidariteit het in Februarie ’n dringende hofsaak gebring om die ganse direksie van Denel regstreeks aanspreeklik te hou vir die maatskappy se versuim om ingevolge ’n hofbevel van Augustus 2020 alle agterstallige salarisse aan Solidariteit se lede uit te betaal.

Solidariteit het aangevoer dat dit minagting van die hof is en dat elke direkteur dus ses maande tronkstraf moet kry.

Regter André van Niekerk het in daardie stadium uitspraak voorbehou, en Cronjé het gesê daar is steeds geen aanduiding wanneer die uitspraak gelewer gaan word nie.

Intussen het direkteure van Denel links en regs begin bedank.

“Werknemers moet hopeloos té gereeld die gevolge van wanbestuur op hoofbestuurs- en op direksievlak dra. Hiermee stuur ons ook ’n boodskap dat werknemers in die openbare sektor moeg is daarvan om gedurig vir die korrupsie en onkunde by hul ondernemings die spit af te byt.

“Dis tyd dat die staat besef dat as hy dan nou nie ’n positiewe bydrae tot dié ondernemings kan lewer nie, moet hy ten minste ophou om so ’n groot las te wees en om die goeie funksionering daarvan te kniehalter.

“Ons is verheug oor die oorwinning, maar ons sal moet aanhou baklei om Denel uiteindelik reg te ruk en vir ons lede ’n werkomgewing van sekerheid en uitnemendheid te skep.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.