Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit: Sakeredding nou ’n móét vir SAL
Kenners meen die son sak nou vinnig oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens se toekoms. Foto: Elvira Wood

Die vakbond Solidariteit sê hy het geen ander keuse nie, hy gaan aansoek doen dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding geplaas word.

Dit volg nadat Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die lugdiens, op Woensdag 29 Mei bedank het.

Jarana sê in sy bedankingsbrief die vernaamste redes waarom hy besluit het om te bedank, is omdat die lugdiens nie die finansiële ondersteuning kry wat hy nodig het nie. Dit vat ook baie lank om besluite te neem, wat dit volgens hom haas onmoontlik maak om die omkeerplan van die lugdiens tot uitvoering te bring.

Solidariteit het in April 2018 gesê hy wil die regering met ’n hofgeding dwing om die SAL in sakeredding te plaas.

Hy het dié planne in Julie 2018 op ys geplaas nadat Jarana die vakbond verseker het dat die omkeerplan groot veranderinge sou bring.

“Toe Jarana in 2018 aangestel is, het ons nuwe hoop vir die SAL gekry. Dit is hoekom ons toe die aansoek vir eers op ys geplaas het,” het Werner Human, Solidariteit se prokureur, Dinsdagmiddag aan Netwerk24 gesê.

“Nadat hy nou bedank het, voel ons ons het geen ander keuse nie as om nou daarop aan te dring dat die lugdiens in sakeredding geplaas moet word.

“Dit maak ook nie saak wie in Jarana se plek aangestel gaan word nie, ons gaan nie van plan verander nie,” sê hy.

In 2018 het Solidariteit se aansoek om sakeredding reeds uit meer as 1 000 bladsye bestaan waarin voorste Suid-Afrikaanse en internasionale lugvaartkenners geraadpleeg is, insluitende Nico Bezuidenhout, voormalige hoof van die staat se laekostelugdiens Mango, en Monwabisi Kalawe, ’n vorige SAL-hoof wat ook voorheen hoof van die Kaapstadse Internasionale Lughawe was.

“Aangesien daar nou ’n jaar verloop het sedert ons die hofstukke saamgestel het, gaan ons dit nou eers opdateer,” sê Human.

Hy sê hoewel hy nie ’n spesifieke datum kan gee vir wanneer hulle die aansoek gaan bring nie, sal dit “binnekort” wees.

Die SAL het aan die einde van 2018 glo reeds sowat R28 miljard geskuld.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Vuyani Jarana  |  Lugdiens  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.