
Kleinsake in Suid-Afrika neem baie minder mense in diens as wat navorsers verwag het. Foto: Argief
Die vakbond Solidariteit het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien omdat ras tog ’n rol gaan speel wanneer hulp verleen word aan kleinsakeondernemings wat weens die Covid-19-krisis swaar trek.
Dit kom ’n dag nadat Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, verseker het daar is geen vereiste dat ondernemings 51% in swart besit moet wees om vir hulp te kwalifiseer nie. Sy het verseker dat ondernemings van “alle demografie” gehelp sal word, mits hulle deur Suid-Afrikaners besit word, hul belastingsake in orde is en hulle tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bydra.
Sy het wel gesê die verspreiding van hulp moet “demografies verteenwoordigend” wees, en dis hierteen dat Solidariteit beswaar maak.
Solidariteit maak ook beswaar teen die hulppakket van R200 miljoen wat die departement van toerisme aan klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in die sektor gaan leen. Volgens die verklaring deur die departement sal minstens 70% van die begunstigdes ondernemings in swart besit wees, 50% ondernemings in vroue se besit, 30% in jeug se besit, en 4% in die besit van mense met gestremdhede.
Die departement verwys na die “beperkte fiskus”
Solidariteit gaan benewens sy klag by die Menseregtekommissie ook regstappe voorberei.
“Terwyl die res van ons voorwaar voorberei op ’n tyd van krisis en ongekende swaarkry, sien die regering dit maar net as ’n gulde geleentheid om sy aanstootlike rasse-ideologie af te dwing. Dit is afgryslik,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit voer aan dat dit een ding is om te sê dat SEB ’n voorvereiste is vir staatskontrakte, maar dit is iets heeltemal anders as die president gesê het dat niemand mag sake doen nie en dan weier om sekere ondernemings te beskerm te midde van dié drastiese stap.
Benewens die noodfinansiering wat beskikbaar gestel word, kan werkgewers ook namens hul werknemers van die WVF eis. Besonderhede hieroor moet nog bekend gemaak word.