
Amsa se aanleg in Vanderbijlpark, Gauteng. Foto: Amsa
Die vakbond Solidariteit wil ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) aanvat oor wat hy as die “onbillike en onregverdige” behandeling van sommige werknemers beskryf.
Solidariteit het Donderdag in ’n verklaring gesê Amsa weier om gehoor te gee aan sy eis dat die korttyd waarop van sy lede geplaas is, afgeskaf word en dat hulle weer ’n volle salaris kry.
Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal- en ingenieurswese by Solidariteit, sê in die verklaring dat Amsa sedert 1 November vanjaar ’n 5%-verhoging, met ’n verdere 2% in April 2021, aan een kategorie werkers toegestaan het, maar die res op 25% korttyd gelos het met ’n vooruitsig van ’n moontlike permanente 8%-salarisvermindering.
Hy sê dat die vakbond nou hofstukke teen Amsa voorberei.
Volgens Venter sal die vakbond ook ander optrede oorweeg, “wat teen die maatskappy ingestel kan word om die onbillike en onregverdige wyse waarop die maatskappy sy personeel hanteer te stuit”.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n maatskappy verhogings aan sekere personeellede toestaan, maar ander se werkure en salarisse beperk. Aangesien sommige werknemers met verhogings vergoed word, is dit duidelik dat Amsa se bedrywighede weer op dreef is, en dit maak die voorstel om ander werknemers se salarisse tydelik en/of permanent te verminder onbillik,” sê hy.
Volgens Solidariteit was die korttyd net tydelik ingestel en die permanente instelling daarvan is ’n eensydige verandering van hul diensvoorwaardes, wat onbillik en strydig met die wet is.
Solidariteit beweer verder dat Amsa van voorneme is om sekere werknemers se salarisse met 8% te verminder, wat dan deur ’n prestasiebonus vervang sal word.
Solidariteit meen dat dit nog ’n eensydige en onwettige verandering is.
“Amsa het nie aan ons lede se eise voldoen nie, en dít nadat verskeie vergaderings reeds die afgelope tyd gehou is om die aangeleentheid te bespreek. Ons het dus geen ander keuse nie as om met regsprosesse teen die maatskappy voort te gaan. Dit is onregverdig om van een groep werknemers weg te neem terwyl ’n ander groep bevoordeel word.”
Amsa het geruime tyd al werkers op korter skofte as deel van sy plan om enorme verliese te bekamp.
Hy het in Julie bekend gemaak dat hy ’n wesensverlies van R2,6 miljard in die ses maande tot einde Junie gely het. Dit is meer as vier keer die wesensverlies van R638 miljoen ’n jaar tevore.
Amsa is om kommentaar genader, maar het nog nie gereageer nie.