Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Son skyn weer vir Ellies

Die verskaffer van elektriese en elektroniese goedere Ellies is weer winsgewend.

sonpanele
Werkers installeer sonpanele op die dak van ’n residensiële eiendom in Johannesburg. Ellies begin die vrugte pluk van sy diversifisering na alternatiewe kragoplossings soos sonkrag. Foto: Getty Images

Ellies begin boonop die vrugte pluk van sy skuif na sonkrag en ander diversifisering.

Wat sy afgelope boekjaar se winsgewendheid aangehelp het was die skuif van sy logistieke en pakhuisbedrywighede na Value Logistics. Dit het gehelp om sy bedryfsuitgawes met 4,3% te verlaag vir die nege maande sedert die skuif gemaak is, het dr. Shaun Prithivirajh, uitvoerende hoof van Ellies, gesê.

Ellies het in die boekjaar sy vervaardigingsafdeling Ellies Industries gelikwideer, wat vir baie jare ’n finansiële las vir die groep was.

Hoewel hy hard probeer het om die fabriek te verkoop, kon Ellies nie daarin slaag nie, en is die hooggeregshofbevel vir finale likwidasie op 12 April gelewer. “Dit was ’n moeilike besluit, maar dit was ’n verantwoordelike besluit vir die groep,” het Prithivirajh gesê.

ELLIES IN SYFERS:


  • Ellies het in die boekjaar tot einde April ’n wins van R76 miljoen in sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebidta) behaal, ná die vorige jaar se verlies van R2,6 miljoen.
  • Te midde van die Covid-19 pandemie kon hy sy omset met 1,1% tot R1,2 miljard verhoog.
  • Die totale omvattende wins het van ’n verlies van R196,1 miljoen tot ’n wins van R30,4 miljoen omgeswaai.

Ellies Industries het 148 mense in diens geneem en sou die dekodeerders vervaardig wat mense nodig het vir die oorskakeling na digitale aardtelevisie. Maar die staat se gesloer met dié projek het volgens Ellies bygedra tot die besluit om die fabriek te sluit.

“Met die uitdagings met Eskom, en lae verbruikers- en sakevertroue in energiesekerheid, het ons gegroei van ’n enkele soort produkaanbod na ’n reeks alternatiewe kragoplossings vir verbruikers en ondernemings,” sê Prithivirajh oor Ellies se skuif na sonkragprodukte.

Ellies
’n Spesiale kragprop van Ellies wat elektriese toestelle teen kragstuwing beskerm - ’n bykans noodsaaklike stuk toerusting in huishoudings waar Eskom se beurtkrag enige tyd kan toeslaan en kragstuwings kan veroorsaak wanneer die krag weer aangeskakel word. Foto: Ellies

Namate verbruikers meer kennis opdoen oor sonkrag, is Ellies goed geposisioneer om voordeel te trek uit die groeiende noodsaaklikheid daarvan, sê hy. Hy ondersoek ook ander geleenthede vir diversifisering.

Hy het intussen ’n bemagtigingstransaksie met Imvula Education Empowerment Trust aangekondig, wat sy vooruitsigte verbeter om ’n vlak-4-status vir bemagtiging te behaal.

Ellies verkoop sonpanele, omsetters, batterye, kragopwekkers, dekodeerders, satellietskottels asook elektriese toebehore soos kragproppe, beligting, skakelaars en kabels vir oudiovisuele toerusting.

    Meer oor:  Sonkrag
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.