Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Soveel verloor staat oor sigaretverbod

Die verbod op sigaretverkope tydens die staat van inperking gaan die staat na raming sowat R1,3 miljard aan aksynsbelasting op sigarette kos.

British American Tobacco se spoggerige nuwe Suid-Afrikaanse hoofkantoor in die V&A Waterfront in Kaapstad. Hier is David Green, uitvoerende hoof van die V&A Waterfront, saam met Soraya Zoueihid, besturende direkteur van British American Tobacco South Africa (Batsa), voor die gebou. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die Suid-Afrikaanse filiaal van British American Tobacco sê hy moes sy plaaslike fabriek sluit toe die inperking begin het.

Geen voltooide sigarette word ingevoer nie.

Die materiaal wat nodig is om sigarette te maak wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, word ingevoer.

British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) voer ook sigarette uit wat hier vervaardig word en koop meer as 90% van die land se tabak aan.

Johnny Moloto, hoof van eksterne sake van Batsa, het by navraag gesê as die verbod vir 21 dae geld, verwag Batsa om sowat ’n miljard sigarette minder te verkoop in 2020.

In 2019 het Batsa meer as 12 miljard sigarette hier verkoop.

“Dit gaan R875 miljoen minder vir die nasionale tesourie in aksyns net van Batsa af beteken.

“As daar in ag geneem word dat die ander vervaardigers ook nie kan verkoop nie, gaan die nasionale tesourie sowat R1,3 miljard minder aksyns insamel as waarvoor begroot is.”

Moloto sê die maatskappy het in die nuus oor die verbod op verkope tydens die inperking gehoor.

“Ons het aan die betrokke ministers geskryf om duidelikheid oor die regulasies te kry. Ons het erkenning van ontvangs gekry, maar wag nog vir ’n formele reaksie om die regulasies in verband hiermee te verduidelik.”

Of daar enige hoop is vir rokers dat die verbod opgehef gaan word, het Moloto gesê Batsa hoop die regering heroorweeg die verbod.

Moloto sê die verkoop van onwettige sigarette gaan toeneem en dat die verbod opgehef moet word omdat rokers maniere gaan soek om rond te beweeg om sigarette in die hande te kry.

Sigarette word in 'n fabriek getoets.

“Hoe langer die verbod voortduur, hoe groter raak die geleentheid vir die swartmark om te floreer met meer en meer rokers wat maniere gaan soek om die verbod te omseil.”

Hy sê die groot groei in die smokkel van onwettige sigarette, waarop die staat nie aksyns verdien nie, het sedert 2014 tot ’n skerp daling in die verkope van die wettige produkte gelei.

Onwettige sigarette verteenwoordig 42% van die verkope deur informele handelaars.

“Die huidige verbod op die wettige verkope van sigarette gaan hierdie neiging vererger en gaan die onlangse vordering wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en ander wetstoepassers gemaak het om onwettige handel stop te sit, ongedaan maak.”

Batsa vervaardig sigarette vir die plaaslike en uitvoermark in sy fabriek in Heidelberg, Gauteng. Sigarette word ook vir tien ander lande hier vervaardig.

Produksie is gestaak toe die inperking begin het.

Oor die regulasies wat met die invoer van vrag verband hou, sê Moloto is die materiaal wat ingevoer word vir die vervaardiging van sigarette, ook gestop.

“Ons wag vir duidelikheid om te bepaal of ons die invoer van die produkte nou onder die gewysigde invoerregulasies mag hervat.”

Meer oor:  British American Tobacco  |  Batsa  |  Covid-19  |  Sigaretverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.