Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spaar-stappe knou Jan Publiek
JSE
’n Beeld buite die Johannesburgse aandelebeurs. Foto: Getty Images

Maatskappye spaar waar hulle kan om die Covid-19-krisis te probeer oorleef, met slegte gevolge vir baie mense, sê Johan Gouws, hoof van advies by Sasfin Wealth.

Uit onlangse aankondigings deur verskeie maatskappye op die JSE is dit duidelik dat maatskappye spaar deur dividende op te skort, die terugkoop van aandele te staak en waar moontlik kapitaaluitgawes te kanselleer. Hulle verminder ook personeel en salarisse, stel salarisverhogings uit en skort bonusbetalings op.

Intussen probeer hulle voorraadvlakke bestuur te midde van ontwrigte verskaffingskettings en hulle moet ekstra uitgawes aangaan om personeel en klante te beskerm teen die verspreiding van die virus.

Netcare, Absa, Truworths, Woolworths en Tiger Brands is maar enkele van die genoteerde maatskappye wat óf hul dividend opgeskort óf gewaarsku het kanse is skraal op sulke uitbetalings in die nabye toekoms.

Die opbrengs van beleggings op die JSE is op langer termyn aansienlik swakker as dividendopbrengs buite rekening gelaat word.

“Dividende word gewoonlik outomaties herbelê in effektetrusts,” sê Gouws. Daarsonder verloor ’n mens die vermenigvuldigende effek van saamgestelde groei. Dít kan die opbrengs van spaargeld en aftree- of pensioenfondse oor jare beperk.

Met rentekoerse nou op vlakke waar dit in 1973 laas was, gaan beleggers wat minder dividende ontvang ook nou minder rente ontvang. Dit beteken hulle sal meer van hul beleggingskapitaal moet onttrek om hul maandelikse uitgawes te dek en dit sal die spaarpoel in Suid Afrika verder laat krimp, waarsku Gouws.

Net Netcare het R800 miljoen se nienoodsaaklike kapitaaluitgawes vir eers opgeskort en Woolworths het gesê hy beperk bedryfs- en kapitaalbesteding tot die minimum.

Dít, sê Gouws, beteken minder geld in die ekonomie. “Maatskappye was al voor Covid-19 in oorlewingsrat. Verdere beperkings op kapitaalbesteding gaan die maatskappye wat daardie dienste lewer verder knou.”

Murray & Roberts het byvoorbeeld in ’n onlangse aankondiging daarop gewys dat die opskorting van kapitaalbesteding in die mynbedryf in sy bestelboek kan weerspieël.

Mense wat dié soort dienste verskaf se inkomste krimp en die ekonomie daarmee saam. Die land raak gevolglik al hoe afhankliker van buitelandse belegging, sê Gouws.

“In Mei 2019 was 39% van die land se staatseffekte in buitelandse besit. Nou is dit net 33%. Wat gaan gebeur as buitelandse vraag na ons staatseffekte opdroog? Ons kan nie daarop reken nie, want Covid-19 is oral.”

Behalwe die ooglopende probleem as mense afbetaal word, is die opskorting van bonusse ook sleg vir die ekonomie, sê Gouws. Baie mense gebruik dit om eenmalig hul aftreefondse te styf.

Gouws sê alles het ’n vermenigvuldigende effek, wat die rand en die staatskas meer blootgestel laat.

“Ons moet net besef die normale manier van sake doen is iets van die verlede en ons sal ook anders moet dink oor hoe ons spaar, belê en leef.”

Daar is nie meer plek vir populistiese besluite soos om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te probeer red nie en vakbonde sal moet herbesin oor hul rol wanneer daar eenvoudig nie geld is vir salarisverhogings nie, sê Gouws. Maatskappye doen volgens hom die regte ding om te oorleef en hul personeel en aandeelhouers te beskerm, maar die gevaar is dat dié stappe verpolitiseer kan word.

“Maatskappye is in ’n moeilike posisie om na alle belanghebbendes se belange om te sien en ook te voldoen aan die regering se eise.”

Gouws sê dis maklik om die ekonomie “af te skakel”, maar baie moeiliker om dit weer “aan te skakel”. Hy wys daarop dat die impak van Covid-19-verwante maatreëls tot dusver nog nie in maatskappyresultate sigbaar is nie. Dit kom nog, want maatskappye veg eers om oorlewing.

Die volgende fase is wanneer die likwidasies kom, sê hy.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Maatskappye  |  Skuld  |  Dividend  |  Jse  |  Spaar  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.