Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spar druk om drankverbod volgende week op te hef
spar
Spar het 'n spesiale dividend verklaar. Foto: Argief

Die Spar-groep se verkope het in April met tussen 12% en 14% gedaal omdat Tops en Built It gesluit was.

Graham O’Connor, uitvoerende hoof van die groothandelaar, sê die daling is daaraan te wyte dat drank, sigarette, boumateriaal en maaltye nie tydens die staat van inperking verkoop kon word nie.

Dié produkte se bydrae tot sy omset in Suid-Afrika is tussen 20% en 25%. Tops se omset dra 10% by en Built It s’n 10%, met sigarette en maaltye wat 5% tot die omset bydra.

Sy kosverkope het in April met dubbelsyfers gegroei.

Daar is 844 Tops-drankwinkels in die land.

O’Connor het Donderdag aan beleggers gesê baie van hul drankwinkels is tydens die inperking gestroop. Dit is ’n groot bron van kommer.

Volgens hom het die drankbedryf Woensdag met Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, vergader.

Hulle wag vir ’n aankondiging van die regering daaroor.

“Ons probeer dit bewerkstellig dat drankverkope van volgende week af toegelaat word.”

Hy sê hulle hoop om die verskaffingsketting vir drankwinkels voor dan aan die gang te kry.

Verbruikers het voor die staat van inperking op 27 Maart begin het, drankwinkels leeggekoop.

Hy sê daar is ook kommer oor hoe drankwinkels heropen moet word om ’n stormloop te voorkom.

O’Connor meen ’n voorstel om verbruikers te verdeel in alfabetiese volgorde om drank te gaan koop, gaan tot chaos lei. Hy meen die winkels moet net vir langer ure oop bly en daar moet seker gemaak word dat klante sosiale distansiëring handhaaf.

Die groep het finansiële ondersteuning tydens die inperking aan Tops- en Built It-kleinhandelaars gegee in die vorm van die uitstel van betalings om hulle deur die tydperk te ondersteun.

Spar wil teen volgende week weer drank verkoop. Foto: Verskaf

Spar het Donderdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart uitgereik.

Die groothandel-drankverkope het met minder as normaal teen 3,9% tot R4,2 miljard gestyg in die halfjaar tot einde Maart.

Mark Godfrey, finansiële hoof, sê dit mag teleurstellend wees vir baie beleggers wat gewoond geraak het aan drankverkope wat normaalweg teen dubbelsyfers groei.

Hy het dit grootliks toegeskryf aan ’n reeks Smirnoff- gereed-om-te-drink-produkte wat nie meer deur sy verspreidingsentrums verkoop word nie nadat Diageo van sy sake aan SAB verkoop het en dié biergroep opgehou het om verkope deur Spar te doen.

Nog ’n rede is dat van die Tops-drankwinkels nie voorraad aangevul het voor die inperking nie omdat daar nie verwag is dat dit nodig gaan wees nie.

Van die kleinhandelaars het ook aankope van elders gedoen oor die Kerstyd ná aggressiewe prysmededinging in die groot- en kleinhandelmark in die eerste kwartaal van die halfjaar.

Kleinhandel-drankwinkels se verkope het met 10,6% tot R7,4 miljard gestyg.

O’Connor sê die groep het ’n sterk halfjaar in Suider-Afrika agter die rug. Die volumes wat van sy verspreidingsentrums bestel is, het teen die einde van die halfjaar ’n hupstoot gekry van die paniekaankope voor die staat van inperking begin het.

Groothandelverkope van kos het met 9,7% tot R31,6 miljard gestyg.

Die omset van kleinhandelaars het met 9,6% tot R46,5 miljard gestyg.

Sy eie handelsname het ook sterk groei in verkope getoon.

Interne pryse op groothandelvlak was 4,1% hoër as in die vorige boekjaar.

O’Connor maan dat voedselpryse na verwagting gaan styg.

“Verbruikersbesteding gaan onder ongekende druk kom. Die pandemie het ’n werklike risiko vir kleinhandelverkope geskep en gevolglik vir ons groothandelonderneming. Die situasie gaan vererger word deur die verlangsaming in ekonomiese groei, moontlike toename in werkloosheid en bykomende druk op die verbruiker.”

Hy verwag ’n permanente verandering in voedselkleinhandel as gevolg van Covid-19. “Aanlyn verkope gaan beslis vinniger kom as wat enigiemand verwag het omdat mense dit nou gebruik en sal voortgaan om dit te gebruik.”

Hy glo ook praktyke ten opsigte van ontsmetting en higiëne sal toeneem by winkels.

Die maatskappy het in ’n ongewone stap ’n dividend verklaar.

Godfrey het verduidelik die dividend van 200c is baie konserwatief. Dit is laer as die vorige jaar en minder as wat uitbetaal moes word op grond van die dividendbeleid.

Baie maatskappye het hul dividend opgeskort.

O’Connor het gesê hy hoop Spar sal aan die einde van die boekjaar ook in die posisie wees om ’n dividend te kan betaal.

Die hofsaak tussen die Spar-groep en ’n groot franchisehouer, die Giannacopoulos-groep, dien voor die hooggeregshof.

Meer oor:  Spar  |  Mark Godfrey  |  Drank  |  Vlak 4  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.