Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spar ondersoek ná hy plaaslike sigaret van rak haal
Spar het sigarette van plaaslike handelsname van sy winkelrakke verwyder. Foto: Unsplash

Spar het bevestig hy word deur die Mededingingskommissie ondersoek nadat dié supermarkgroep deur ’n prominente Suid-Afrikaanse sigaretmaatskappy van teenmededingende gedrag beskuldig is.

Luidens ’n berig in The Sunday Times het Spar besluit om nie meer voorraad van sekere sigarette aan te hou nie, glo omdat die vervaardigers probeer om aksynsbelasting te ontduik.

Die betrokke handelsname is deel van die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita), wat die klag by die Mededingingskommissie aanhangig gemaak het.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die kommissie, het bevestig dat die saak ondersoek word.

“Dit beteken ons bepaal nou of die klag meriete het ingevolge die Mededingingswet.”

Kerry Becker, woordvoerder van Spar, het Sondag aan Fin24 gesê hulle is deur die kommissie genader en gaan hul samewerking gee.

“Ons dink nie dis ’n goeie idee om in dié stadium kommentaar in die media te lewer nie,” sê Becker.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, het op sy beurt gesê die klag kom nadat Spar sommige van sy lede se sigarette van sy winkelrakke verwyder het. Volgens Mnguni kom dit neer op teenmededingende gedrag.

Waarom is die sigarette verwyder?

Luidens interne e-posgesprekke tussen senior bestuurslede by Spar wat The Sunday Times onder oë gehad het, het die supermarkgroep na afloop van ’n ondersoek deur die marknavorser Ipsos besluit om nie meer die betrokke sigarette te verkoop nie.

Tisa het in 2018 ’n ondersoek aangevra om te bepaal hoeveel inkomste die bedryf en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verloor uit die verkoop van onwettige sigarette.

Elke pak sigarette wat in Suid-Afrika verkoop word, is onderhewig aan aksyns van R17,85. Ipsos beskou enige sigarette wat vir minder as dié bedrag verkoop word, as onwettig aangesien die SAID geen geld uit die transaksie verdien nie.

Volgens Ipsos se navorsing het Gold Leaf Tobacco sy RG-handelsnaam vir gemiddeld R10 per pakkie sigarette verkoop.

Spar het onder meer Gold Leaf se produkte van sy winkelrakke verwyder. Gold Leaf is ’n lid van Fita.

Die maatskappy ontken hy is besig om belasting te ontduik deur sy sigarette so goedkoop te verkoop.

Gold Leaf sê al sy handelsname is by die SAID geregistreer en hy betaal aksyns op al sy produkte.

Luidens Ipsos se verslag verteenwoordig Gold Leaf Tobacco reeds meer as 70% van die mark vir “onwettige sigarette”.

“Hy is sterk op pad om op grond van verkoopsvolumes die grootste tabakmaatskappy in die land te word.”

Ander lede van Fita sluit in Carnilinx en Amalgamated Tobacco Manufacturing.

Meer oor:  Spar  |  Gold Leaf Tobacco  |  Mededingingskommissie  |  Sigarette  |  Sigarethandel  |  Said
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.