Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spar skop groot franchise-houer uit

Ná ’n maande lange twis tussen Spar en die Giannacopolous Group, het Spar vandeesweek gesê hy beëindig die groep se lidmaatskap van die Spar Gilde.

Spar het 20 winkels van ’n franchise-houer teruggeneem. Foto: Bloomberg

Hy beheer voortaan self die net meer as 20 winkels waarop die Giannacopolous Group die franchiseregte gehou het.

In ’n kennisgewing wat Spar vandeesweek aan sy kleinhandelaars gestuur het, sê hy “Giannacopoulos Group het die Spar-handelsnaam in oneer gebring en het met ander Spar-kleinhandelaars meegeding”.

Giannacopoulos Group het benewens die Spar-winkels ook belange in Food Lover’s Market en OK Foods.

Die groep het 30 dae kennis gekry soos wat die akte van oprigting van die Spar Gilde vereis. Die gilde het ook Woensdag aansoeke by die hooggeregshof ingedien om sy regte op al die winkels in die groep uit te oefen. Spar bedryf die betrokke winkels intussen self.

Sien die kennisgewing in die berig van die Zululand Observer hier.

Die departement van indiensneming en arbeid het die stap Vrydag in ’n verklaring verwelkom. Hy het in Mei vanjaar inspeksies gedoen by Spar-winkels “ná ’n reeks klagtes oor beweerde growwe oortredings van arbeidswette”.

Met die inspeksies is vasgestel “al die winkels waar oortredings gevind is, was in franchises wat deur mnr. Christos Giannacopoulus besit word”.

Dit is onder die Spar Gilde se aandag gebring en die departement het Giannacopoulus intussen na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys weens beweerde oortredings van arbeidswette en nienakoming van die minimum loon, lui die verklaring.

’n Klag is ook by die Menseregtekommissie teen hom aanhangig gemaak, sê die departement.

Die probleme is by tien winkels gevind waarvan nege in Gauteng is en een in Noordwes.

Volgens die departement sluit die oortredings in dat:

  • Die winkels nie kontrakte met werknemers gesluit het nie;
  • Werknemers lang ure werk sonder vergoeding vir oortyd;
  • Wetsvereistes nie nagekom is ten opsigte van betaling vir Sondagwerk, werk op openbare vakansiedae en verlof nie;
  • Buitelanders wat onwettig in die land is, in diens geneem is;
  • Onwettige aftrekkings van lone gedoen is; en
  • Personeel nie vir werkloosheidsversekering geregistreer is nie.

Inspeksies is by die volgende winkels in Pretoria gedoen: Spar Orchards; Doornpoort Spar; Montana Spar; Wierda Spar; Silverton Spar; Zambezi Super Spar; Rietfontein Spar en Silverplace Spar. ’n Inspeksie is ook by Safari Spar in Rustenburg gedoen.

565 mense werk by dié winkels.

‘Probleme is nie reggestel nie’

Adv. Michael Msiza, die arbeidsdepartement se hoofinspekteur vir Gauteng, sê die departement het van die eerste inspeksie af probeer om die Giannacopoulos Group tegemoet te kom, maar sonder sukses.

Hy sê die groep is in ’n kennisgewing 14 dae tyd gegee om die oortredinges reg te stel. “Giannacopoulos het egter in gebreke gebly om die probleme reg te stel en het uitstel gevra. Hy het selfs ’n vergadering met die departement aangevra, maar dit het geen resultate opgelewer nie.”

Msiza beweer die groep skuld personeel sowat R13 miljoen ten opsigte van onwettige aftrekkings, nienakoming van die minimum loon en oortydwerk.

Die Zululand Observer berig verskeie Spar-winkels in Empangeni en Richardsbaai in KwaZulu-Natal was Donderdag tydelik gesluit en deur die balju afgesper kragtens die Spar Gilde se hofaansoeke.

Spar het nie op navrae reageer nie.

Netwerk24 kon nie vir Harry Giannacopoulos, eienaar van talle van die Spar-winkels in KwaZulu-Natal, in die hande kry nie.

Zululand Observer het ’n verklaring van hom gepubliseer waarin hy skryf “dit is ’n hartseer dag in die geskiedenis van ’n trotse plaaslike winkelgroep”.

“Die plaaslike Giannacopoulos Group het in 21 jaar meer as enige ander familie in Suid-Afrika gedoen om die Spar-naam uit te bou.”

Die familie het sy eerste Spar in 1998 in Empangeni oopgemaak. Hy sê die Giannacopoulos Group “is die grootste private en familie-beheerde groep van Spar-winkels” in die land.

Hy sê die groep besit meer as die helfte van die geboue waarin die Spar-winkels onder hul beheer is, en het 2 800 werknemers.Lees die volledige verklaring van hom op die Zululand Observer se webblad.

Lang aanloop

Daar is vanjaar al telkens berig oor die voortslepende arbeidsprobleme rakende die Giannacopoulos Group.

Eyewitness News het in Januarie berig die Spar Gilde het opdrag gegee dat ’n oudit oor mensehulpbronne by die groep se Spar-winkels gedoen word ná klagtes van beweerde onbillike arbeidspraktyke.

Die Gilde het glo toe reeds gewaarsku as die Giannacopoulos Group nie voortaan twee keer per jaar oudits laat doen nie, die gilde hom gaan uitskop.

Die gilde is ook ontevrede met die groep se belange in Food Lover’s Market en OK Food en wou hê hy moet dit verkoop.

Christos Giannacopolous het in reaksie op dié berig gesê daar is ’n veldtog van vals aantygings teen hom.

Netwerk24 het ’n e-pos met vrae en ’n versoek om kommentaar aan sy prokureur, Saul Shoot, gestuur. Volgens sy kantoor sou hy nie Vrydag kon reageer nie omdat hulle in die hof is.

Meer oor:  Spar  |  Arbeidswette  |  Minimum Loon  |  Kleinhandelaars  |  Dienskontrak  |  Kleinhandel  |  Winkelgroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.