Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Speeldae’ by Denel lánk verby

’n “Miljoen klein verkeerde besluite” het die staat se eens trotse wapenvervaardiger só afgetakel dat een werknemer al uit sy eie sak betaal het om sy werk te kan doen, selfs al baklei hy en die res van ’n Gideonsbende om kop bo water te hou.

Keith Meyer, wat al 37 jaar by Denel Dynamics in die afdeling vir hommeltuie werk.Foto: Deon Raath

Denel se personeel sukkel al sedert Julie verlede jaar elke maand om hul volle salaris te kry. Hulle kry gereeld net ’n deel daarvan. Verlede maand het Denel Dynamics se personeel geen betaling gekry nie. Sover is daar ook nog niks vir Februarie nie.

Daar was Woensdag geen reddingsboei in die begroting vir die bankrot Denel nie.

Dieselfde dag het die direksievoorsitter, Monhla Hlahla, tydens die voorlegging van Denel se jaarverslag aan die parlementêre komitee oor openbare ondernemings gesê sy skaam haar dood oor die maatskappy se vertoning, berig Business Day.

Donderdag is haar en verskeie ander direksielede se bedanking aangekondig.

Hlahla het aan die parlement gesê Denel se inkomste vir 2019-’20 was R2,7 miljard, vergeleke met R8,4 miljard ’n paar jaar gelede. Sy verlies die afgelope drie jaar was R4,4 miljard, het die finansiële hoof, Carmen le Grange, aan die komitee gesê.

Hlahla het die skuld vir Denel se benarde posisie op die departement van openbare ondernemings gepak.

Volgens haar het Denel in 2019 sy grootste kontrak, vir R6 miljard, losgeslaan om grond-tot-lugmissiele aan die Egiptiese vloot te verskaf. Die regering het ná ’n lang gesloer geweier om waarborge te verskaf en al kon Denel eindelik wel die waarborge verkry, was dit te laat.

Dié voeteslepery maak dit moeilik om sake te doen, het Hlahla gesê.

’n Ander rede vir die direksielede se uittog is waarskynlik dat die vakbond Solidariteit hulle in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik wil hou omdat geld wat van personeel se salarisse afgetrek is nie aan derde partye soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en pensioenfondse oorbetaal is nie.

Dít kan die direkteure boetes of selfs tronkstraf op die hals haal.

Ek kon (voorheen) nie wag om soggens by die werk te kom nie. Ek het altyd vir mense gesê ons speel heeldag.
Keith Meyer

Die arbeidshof het vroeër beveel Denel moet die agterstallige salarisse betaal, maar dit is nog nie gedoen nie, sê Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit. Hulle is terug hof toe en wag vir ’n lasbrief vir eksekusie, waarna die balju op Denel se bates kan beslag lê en dit verkoop.

Intussen kry die werknemers bitter swaar.

In reaksie op berigte dat twee van hulle hul eie lewe geneem het, het die vakbond Uasa die situasie as “ontstellend en hartverskeurend” beskryf.

Keith Meyer (64), ’n tegniese spesialis wat al 37 jaar by Denel Dynamics aan die ontwikkeling van militêre hommeltuie werk, sê wanneer hy soggens werk toe ry, kry hy ’n beklemming.

“Ek kon (voorheen) nie wag om soggens by die werk te kom nie. Ek het altyd vir mense gesê ons speel heeldag.”

Daardie lugfoto van die rye mense wat op 27 April 1994 wag om te stem, was húl werk, sê hy. In hul afdeling was daar omstreeks 2014 nog 150 werknemers. Nou is daar dalk 34 in dié “spookdorp”. Dít sluit ondersteuningspersoneel in. Dié met spesialiskennis is dun gesaai.

“Aanvanklik het hulle vir ons briewe gegee en gesê ons moet dit vir ons finansiële instellings wys,” vertel Meyer se kollega Chris Koch (60), ’n programbestuurder wat al 42 jaar by Denel werk. “Hulle lag vir jou.”

Baie werkers het die salarisdroogte tot dusver oorleef bloot omdat hul lewensmaats elders ’n inkomste verdien.

Koch sê hy doen private werk en Meyer sê hy het gelukkig nie meer afhanklike kinders en ’n huis- of motorpaaiement nie, “maar hulle skuld my al R110 000”.

Wat sê ’n mens vir ’n kollega wat by jou kom sit en vertel hy het reeds sy huis en motor verloor? Hy ry nou taxi werk toe teen R40 per dag. Hy kan ook nie wegbly nie, want dan word dit as dros beskou.

Cronjé sê die enigste oplossing is dat die regering belastinggeld gee of as ’n strategiese ekwiteitsvennoot geld inpomp in ruil vir ’n aandelebelang.

“Daar is belangstelling (van potensiële vennote) in al die afdelings, maar die departement van openbare ondernemings moet toestemming gee daarvoor.

“In November 2019 was daar ’n aanbod om Denel se minderheidsaandeel in Hensoldt Electronics te verkoop.”

Die departement het in Oktober toegestem, maar die aanbod het ’n maand tevore verstryk, sê Cronjé. Dit is nie een verkeerde besluit wat Denel afgetakel het nie, “maar ’n miljoen klein besluite”, sê Koch.

Vroeër jare het die personeel saam ’n plan beraam as die maatskappy noustrop getrek het. Hulle het vorendag gekom met die selfoontorings wat soos bome gekamoefleer is, CD-kassies vervaardig en waentjies gebou. Nou word geen voorstelle meer aanvaar nie.

Die paar getroues wat nog daar is, voel verantwoordelik, sê Koch.

Hy het verlede jaar R10 000 uit sy sak betaal vir komponente om ’n produk te kon voltooi. Verlede week het hy weer hand in eie sak gesteek sodat ’n kontrakteur ’n vliegtuigkomponent kon toets sodat dit oorsee gestuur kan word.

Intussen werk hy aan ’n hofaansoek vir konstruktiewe ontslag. Hy sê Denel maak dit vir hom en sy kollegas onmoontlik om hul werk te kan doen.

Meer oor:  Denel  |  Staatsondernemings  |  Bankrotskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.