Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spoghuise wat afbrand, ruk Santam se sak
Verskeie huise en voertuie in Bettysbaai het uitgebrand vroeg in 2019. Foto: Jaco Marais

Die brande wat aan die begin van die jaar verskeie spoghuise by Bettysbaai naby Kleinmond verwoes het, tesame met haelstorms en vloede in KwaZulu-Natal, het die korttermynversekeraar Santam se verdienste in die halfjaar tot einde Junie geknou.

Santam het Donderdag gesê sy wesensverdienste per aandeel het met 3% gedaal, en die onderskrywingsmarge is van ’n jaar gelede se 8,4% af tot 5,3%. Die marge toon dat Santam 5,3c in sy sak sit vir elke R1 se premie wat ’n gemiddelde versekerde aan hom betaal. Die res word bestee om eise uit te betaal en aan administrasie en ander koste.

By Santam se afdeling vir oesversekering was daar ook verliese weens haelskade, sê Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof. Hennie Nel, finansiële hoof, sê Santam het ’n verlies van sowat R80 miljoen gely weens die hoër eise vir oesskade. Maar dit is juis hoekom boere oesversekering uitneem en dit word aanvaar dié deel van die versekeringsmark is wisselvallig.

Santam se bruto inkomste uit premies het met 8% tot R17 miljard gegroei en ’n opbrengs van 25,4% is op kapitaal verkry. Santam kon ook steeds ’n halfjaardividend van R3,92 per aandeel betaal.

Santam halfjaar in syfers:
  • Netto wins krimp met 3% tot R1,094 miljard
  • Bruto eise uitbetaal styg met 8% tot R9,7 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 3% tot R9,90
  • Tussentydse dividend styg met 8% tot R3,92 per aandeel

Sy motorversekeringsafdeling, MiWay, se premies het met 9% gegroei.

Premiegroei uit Santam se bedrywighede buite Suid-Afrika het met 21% gegroei danksy sterk groei in korporatiewe eiendoms- en ingenieursversekering in Afrika, asook danksy Santam se herversekeringsake in Suidoos-Asië, Indië en die Midde-Ooste.

Santam het ook goed gevorder om spesialisversekering saam met sy vennoot Saham Finances in Afrika te vestig. Die voordele van dié samewerking behoort van 2020 en verder in Santam se syfers deur te kom, sê Lambrechts.

Nel verduidelik daar is groot geleenthede vir versekering van groot infrastruktuurprojekte soos myne in Afrika, en Saham Finances se voetspoor in Noord- en Wes-Afrika bied Santam die kans om in daardie gebiede uit te brei.

In dié vennootskap kan Santam goeie tegniese onderskrywingsvaardighede in veral die korporatiewe eiendom- en konstruksiesektore bied, terwyl Saham Finances ’n goeie verspreidingskanaal het en die risiko’s van die onderskeie lande goed ken, sê Nel.

    Meer oor:  Santam  |  Brande  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Versekering
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.