Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spur sink weens inperking, kan nie dividend bekostig

Opeenvolgende inperkings en aandklokreëls, asook die talle kere wat die verkoop van alkohol verbied is, het die Spur-groep se inkomste so geknou dat hy vir die derde keer sy dividenduitbetaling uitstel sodat hy kan vashou aan sy kontantreserwes.

spur
Die staat van inperking het Spur – en die Spur-groep – se bedrywighede erg geknou. Foto: Spur

Die Spur-groep het Dinsdag sy resultate vir die ses maande tot einde Desember uitgereik.

Sy inkomste het met 40,2% getuimel tot R314,2 miljoen teenoor R525 miljoen in die ooreenstemmende ses maande.

Die lys dalings is lank in die handelsverklaring wat op die JSE se nuusdiens, Sens, uitgereik is.

Spur sê die inperking het hom hard geslaan.

Verkeer in sy restaurante het beduidend verminder weens veral die aandklokreël wat verhinder dat hy so laat soos normaalweg oop kan bly.

Ná die harde inperking is restaurante van 29 Junie 2020 toegelaat om ’n volledige diens te hervat, onderhewig aan streng protokolle, ’n beperking op die getal kliënte en by tye ’n verbod op die verkoop van alkohol.

Die uitwerking van die aandklokreël op die handelsure van restaurante word weerspieël in die verkope van aandetes, wat vir die groep met 39% gedaal het.

Vir sy handelsname The Hussar Grill, Casa Bella en Nikos het dit met 48% gedaal.

Die groep se alkoholverkope was 39% laer.

Die handelstoestande het ietwat verbeter van September tot November aangesien ’n minder beperkende aandklokreël langer handelsure toegelaat het en alkohol verkoop kon word.

Al was daar op ’n jaargrondslag ’n effense verbetering in Oktober, was verkope in September en November steeds laer, met ’n daling van onderskeidelik 26,2% en 21% teenoor die vorige jaar.

Verbruikers het ten spyte van die verslapte maatreëls klaarblyklik nie na restaurante gestroom nie.

Die tweede vlaag van die koronaviruspandemie in Suid-Afrika het gelei tot die herinstelling van die nasionale aandklokreël en beperkings op sosiale aktiwiteite in Desember 2020.

Spur in syfers:

  • Totale inkomste: -40,2% tot R314,2 miljoen
  • Bedryfswins: -73,3% tot R43,1 miljoen
  • Verdienste per aandeel: -74,6% tot R0,31
  • Kontantreserwes: +7,7% tot R178,1 miljoen.

Die instel van ’n aangepaste vlak 3 van die inperking einde Desember het ’n impak op restaurantverkope gehad.

Handel het in Februarie ’n duidelike verbetering getoon ná die verslapping van beperkings waardeur handelsure tot 22:00 verleng is en alkoholverkope in restaurante weer toegelaat is.

Die totale verkope in Februarie was 82% van die verkope in Februarie 2020, met Spur en RocoMamas wat die beste in die Spur-groep gevaar het.

Spur se Suid-Afrikaanse bedrywighede is baie harder getref as sy bedrywighede oorsee – ’n aanduiding dat die streng inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika beslis ’n faktor bo en behalwe die pandemie self was.

Die inkomste uit internasionale bedrywighede het met net 28,9% gedaal in die tydperk onder oorsig vergeleke met 40,2% in Suid-Afrika.

Met Suid-Afrikaanse bedrywighede wat verantwoordelik is vir 95,3% van die groep se totale inkomste, het dit meegebring dat sy totale bedryfswins met 73,3% getuimel het.

Spur probeer egter aanpas by die veranderende handelsomstandighede in Suid-Afrika omdat hy meen die pandemie gaan nie binnekort iets van die verlede wees nie.

Hy beplan om deurrydienste by talle van sy handelsname op die been te bring. Spur self sal eersdaags ’n deurrydiens hê, en so ook RocoMamas en Bento.

Maar Spur se kontantreserwes is besig om te kwyn.

Die groep het nou reeds drie keer sedert Februarie 2020 sy dividendbetaling uitgestel.

Hy sê hy kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

Die maatskappy leef dalk nog nie op skuld nie, maar indien harde inperkings weer die land se voorland is, sal sy laaste oorblywende kontantreserwes vinnig verdwyn.


    Meer oor:  Spur  |  Inperking  |  Dividend  |  Maatskappyresultate  |  Restaurante
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.