Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Spur sy aptyt kwyt weens pandemie

Ná ’n betreklik goeie eerste agt maande het die Spur Corporation se verdienste in die laaste vier maande van sy boekjaar bykans heeltemal opgedroog.

’n Gesin vier ’n verjaarsdag in die Spur. Foto: Spur

Die laaste vier maande het ook saamgeval met die strengste tydperk van die nasionale staat van inperking toe alle restaurante ’n tyd lank gesluit was.

Restaurante moes hul deure op 27 Maart 2020 sluit en kon eers weer vanaf 1 Mei 2020 op ’n beperkte grondslag begin sake doen.

Spur se restaurantverkope het reeds in die maand vóór die inperking begin daal en was 46,7% laer in Maart vanjaar vergeleke met dieselfde maand verlede jaar.

Plaaslike restaurantverkope het in die voorafgaande agt maande tot einde Februarie met 6% toegeneem.

Die Spur Corporation, wat afgesien van Spur ook die restaurantgroepe The Hussar Grill, Panarotti’s, John Dory’s en RocoMamas bedryf, het Vrydag sy resultate vir sy boekjaar tot einde Junie uitgereik.

Die totale inkomste is 19,4% laer op R761,6 miljoen.

Die Spur Corporation het aan die einde van Junie 631 restaurante oor die wêreld heen bedryf; 547 daarvan in Suid-Afrika.

Sy Suid-Afrikaanse bedrywighede maak bykans 96% van sy totale inkomste uit.

Plaaslike franchises se verkope het met 22,3% gedaal, terwyl verkope by internasionale franchises met 16,7% afgeneem het.

In die agt maande tot einde Februarie het die verkope aanvanklik met 6% plaaslik en 4% internasionaal toegeneem.

Veral The Hussar Grill het voor die staat van inperking stewige groei getoon met verkope wat bykans 12% hoër was voordat alle restaurante noodgedwonge hul deure moes sluit.

Die Spur Corporation het geen inkomste gehad in die eerste maand van die staat van inperking nie.

Selfs nadat restaurante weer van 1 Mei af wegneemetes kon verkoop, was die verkope vir dié maand steeds 87% laer as in die ooreenstemmende maand ’n jaar gelede.

Verkope in Junie, toe Suid-Afrikaners weer self na restaurante kon gaan om wegneemetes af te haal, was eweneens 84% laer as ’n jaar gelede.

Plaaslike restaurante kon eers van einde Junie weer klante toelaat om in die restaurant te eet, maar dit was steeds verbode om alkohol saam met die etes te verkoop.

Voorbelaste wins in Suid-Afrika is 50,8% laer. Die groep Spur-restaurante se wins het met 30% gedaal en RocoMamas met 28%.

Die staat van inperking in Australië en Nieu-Seeland, waar die groep agt restaurante bedryf, het die inkomste van hierdie restaurante met bykans 60% laat afneem.

Albei lande het baie streng maatreëls ingestel om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Verwaterde wesensverdienste per aandeel is 52,1% laer op R0,83.

Geen dividend is verklaar nie.

Terugkeer na normaal

Namate die staat van inperking in Suid-Afrika verslap is, het die restaurante weer teruggekeer na dieselfde vlakke van inkomste as voor die pandemie.

Die omset in Oktober was 92,8% van wat dit in dieselfde maand in 2019 was; ’n verbetering op die 36,5% in Julie, 56,7% in Augustus en 73,8% in September.

Spur en RocoMamas het die vinnigste teruggebons.

Internasionaal verhandel sy restaurante weer teen 97,5% van die omset van ’n jaar gelede met restaurante in Mauritius, Zambië en die Midde-Ooste wat gou weer na normale vlakke terugkeer.

Die Spur Corporation verwag wel nie dat verkope binnekort tot nuwe hoogtes gaan toeneem nie, omdat soveel Suid-Afrikaners steeds onder erge finansiële nood verkeer en verdere werkverliese op mediumtermyn verwag word.

Die maatskappy fokus nou daarop om franchises van finansiële ondergang te red deur bykomende ondersteuning te bied, veral met bemarking en spesiale aanbiedinge.

Die Spur Corporation het ook onlangs vier “virtuele” restaurante bekend gestel.

The Goodie Box, Pizza Pug, Reel Sushi en Bento is vier restaurante in die groep wat net aanlyn bestellings op platforms soos Mr D Food en Uber Eats aanvaar.

Die kos word in bestaande restaurante berei maar onder hierdie handelsname verkoop.

Nóg sulke virtuele restaurante, soos RibShack Rocofellas, Brooklyn Pizza Kitchen, Char Grill Chicken en Mexi Go-Go is ook al aangekondig.

Die groep beplan om nog 21 restaurante in sy huidige boekjaar in Suid-Afrika te open, hoofsaaklik onder die handelsname Spur, Panarottis en RocoMamas.

Agt nuwe restaurante word in verskeie Afrikalande en Saoedi-Arabië beplan.

Sy aandeelprys was Vrydagmiddag bykans 2% hoër op R18,09.

Meer oor:  Spur Corporation  |  Spur  |  Rocomamas  |  Staat Van Inperking  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.