Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staal: Amsa toon beste wins in dekade

Die staalvervaardiger ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het sy beste halfjaarresultate van die afgelope dekade behaal.

ArcelorMittal se staalwerke in Vanderbijlpark.

Amsa het ’n verdienste van R3,2 miljard behaal in die halfjaar tot einde Junie, teenoor die verlies van R1,2 miljard ’n jaar gelede, het Kobus Verster, uitvoerende hoof, Donderdag gesê.

Dit was danksy sterk herstel in die vraag na staal, beter staalpryse en streng kostebeheer.

Verster meen die goeie prestasie is merkwaardig omdat dit in so ’n moeilike omgewing behaal is, soos die Covid-19-pandemie, slegte weer, die wisselvallige diens van Transnet Freight Rail, die uitgerekte tydperk waarin sy aanleg by Newcastle Works vir instandhouding gesluit was, asook tragiese ongelukke waarin drie Amsa-werknemers dood is.

Internasionale staalproduksie het in die halfjaar met 14% tot 1 miljard ton gestyg, met China se produksie wat met 11% tot 560 miljoen ton gestyg het. China hou steeds ’n markaandeel van 56% in die staalmark.

In Suid-Afrika het staalproduksie met 39% tot 3 miljoen ton gestyg.

Geen tussentydse dividend is uitgekeer nie.

Invoerheffings

Verster wys daarop dat Europa en Amerika steeds invoerheffings op staal het, terwyl China sy aansporings vir uitvoerstaal verminder het.

Volgens Verster is dit teleurstellend dat Suid-Afrika se waarborgheffings van 8% op ingevoerde staal in Augustus verval. Dit het gevolg op ’n hofaansoek deur die staalmaatskappy Macsteel. Die gewone invoerheffing van 10% sal nog voortduur.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika.

Amsa sal binne die reëls weer aansoek doen om die waarborgheffings in te stel, sê Verster. Hy het vroeër gesê die heffings is nodig om die speelveld gelyk te maak.

Volgens hom wys die jongste plaaslike staalverbruik ’n styging van 9% tot 2,2 miljoen ton, en is dit min of meer nou weer op dieselfde vlak as in die eerste helfte van 2019.

Produksie

Amsa se produksie het met 36% tot 1,5 miljoen ton gestyg, met verkope wat met 10% tot 1,3 miljoen toegeneem het. Sy uitvoervolumes het egter met 39% tot 122 000 ton gedaal, maar plaaslike verkope het met 21% tot 1,1 miljoen ton gestyg. Baie van die staaluitvoer is geherkanaliseer na die res van Afrika.

Die dollarprys van staal het in die tydperk met soveel as 57% gestyg, met die gerealiseerde randpryse wat met 42% gegroei het danksy die sterker rand teenoor die dollar.

Insetkoste het egter ook gestyg, met kragpryse wat met 12% gestyg het, sê Verster.

Amsa se aanlegte het hul benuttingskapasiteit in die halfjaar tot 59% verbeter teenoor ’n jaar gelede se 39%. Die aanlegte werk al teen 85% van hul kapasiteit.

Die hoogoonde by Vanderbijlpark en Newcastle is nou weer ten volle in bedryf.

Verster meen Amsa is gereed om vanjaar aan die volle binnelandse vraag te kan voldoen, op grond van sy produksievermoë van 4,6 miljoen ton.

Desmond Maharaj, finansiële hoof, sê Amsa het in die halfjaar R338 miljoen aan kapitaalbesteding uitgegee, waarvan die meeste aan instandhouding was.

Volgens Maharaj gaan die groep sy ekstra kontant danksy die goeie kontantvloei in die afgelope halfjaar gebruik om sy skuldvlakke te verlaag.

Meer oor:  Amsa  |  Arcelormittal Suid-Afrika  |  Invoertariewe  |  Staalbedryf  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.