Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staalreus glo nie inenting is duur

Die staalvervaardiger ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) sal graag sy personeelkorps van sowat 6 600 teen Covid-19 wil inent as die geleentheid hom voordoen, het Kobus Verster, uitvoerende hoof, Donderdag gesê.

Solidariteit sal gedwonge inentings by die werk namens sy lede beveg. Maar die staalgroep Amsa meen hy sal binne die wet en volgens die regering se riglyne graag sy werknemers wou inent of hulle minstens aanmoedig om dit te laat doen.

Maar oor of hy ’n verpligte inentingsprogram vir personeel sal volg, het Verster verduidelik hulle sal binne die regering se riglyne en wetgewing bly. Dit sal in die vorm van ’n inligtingsveldtog wees om werkers aan te moedig dat dit die regte ding is om te doen.

Verster meen nie die koste teen moontlik $10 per inenting vir byna 7 000 werkers en hul gesinne is te hoog nie.

Amsa het oor die afgelope boekjaar tot einde Desember sy werkmag verminder van sowat 8 300 tot 6 600.

Die afleggingskoste was R134 miljoen.

Kragstasie

Amsa, wat Donderdag sy resultate vir die 2020-boekjaar bekend gemaak het, het meer besonderhede gegee oor planne om steeds geld te maak uit sy Saldanha-staalaanleg, al is die staalfabriek weens verliese gesluit.

’n Onafhanklike kragprodusent wil ’n gaskragstasie van 350 MW op die perseel bou, en Amsa sal daardeur voordeel trek deur die nodige grond aan die kragstasie te verkoop of te verhuur. Verster wou nie die naam van die maatskappy gee nie. Die entiteit neem deel aan die departement van minerale bronne en energie se tenderproses om noodkragopwekking te voorsien om die druk op Eskom te verlig.

Hulp vir hawe

Nog ’n idee is om ’n logistieke sentrum saam met ’n vennoot te bou wat benut kan word om vragbottelnekke in die Saldanha-hawe te verlig, het Verster gesê.

Daar is reeds infrastruktuur vir die hantering van erts en staalprodukte op die perseel, en dit kan aangepas word sonder om ’n hervatting van produksie by die staalfabriek in die toekoms in gevaar te stel.

Staalmark

Die Saldanha staalfabriek in die agtergrond van 'n panoramiese uitsig op die Weskusdorp Saldanha. Foto: Argief

Verster verwag die winsgewendheid en goeie staalpryse wat teen die einde van die boekjaar beleef is, sal in die lopende boekjaar voortduur.

Amsa het ’n totale produksievermoë van 5,2 miljoen ton staal per jaar, maar het die afgelope jaar net 2,3 miljoen ton geproduseer. Hy is dus slaggereed as die vraag na staal verder herstel.

Weens die inperking is plaaslike produksie gestaak, en moes plaaslike staalkopers verlede jaar 4% meer staal invoer. Die meeste van die 937 000 ton staal wat ingevoer is, was van China, Rusland en Taiwan. Verster verwag staalinvoer sal afneem namate die voorsieningsketting herstel.

Internasionaal het China verlede jaar sy produksie van rou staal tot 1,1 miljard ton verhoog, en sy markaandeel van 54% tot 58% verhoog, sê Verster.

Europese staalvervaardiging het verlede jaar met 9% gedaal tot 172 miljoen ton, en Noord-Amerika s’n met 16% tot 101 miljoen ton.

Afrika se staalproduksie was 10% laer op 13 miljoen ton weens die skerp afname in produksie in Suid-Afrika en Egipte.

Indië se produksie het met 11% gedaal tot 100 miljoen ton, terwyl Turkye en Rusland se produksie met onderskeidelik 6% en 2% gegroei het.

Meer oor:  Amsa  |  Arcelormittal Suid-Afrika  |  Saldanha  |  Inenting  |  Staalbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.