Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staaltekort: Amsa hou aanleg in Vereeniging oop

Daar kom hulp vir die landwye staaltekort wat die konstruksie- en vervaardigingsektor nou al maande lank lamlê.

ArcelorMittal se staalwerke in Vanderbijlpark.

Dit bring ook goeie nuus vir die Vaaldriehoek, waar Vaal Meltshop, ’n aanleg van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa), nou sy deure gaan oop hou en minstens 85 mense hul werk gaan behou.

Vaal Meltshop in Vereeniging was geskeduleer om einde Desember in ’n staat van instandhouding geplaas te word.

Amsa het Donderdag onderneem hy gaan produksie by Vaal Meltshop se elektriese boogoond verhoog, en sal dit hoog hou as die vraag na staal dit regverdig.

“Die skielike en onverwagse styging in vraag in Suid-Afrika en die res van Afrika, en die gepaardgaande tekorte in die verskaffingsketting” het Amsa genoop om die plan om te keer waardeur Vaal Meltshop uit diens gestel sou word.

Die staaltekort het grootliks ontstaan weens die ontwrigting van wêreldwye verskaffingskettings weens die Covid-19-pandemie, en is vererger toe Amsa begin het met beplande instandhouding in Vanderbijlpark. Dié instandhouding is wel vinniger afgehandel toe die nood ontstaan het.

Die Vereeniging-fabriek vervaardig insetprodukte soos stawe en buise wat weer elders deur Amsa se staalmeule gebruik kan word. Die hoër produksie sal ook druk verlig op Amsa se Newcastle-aanleg.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, sê Vaal Meltshop het die afgelope jare teen net sowat die helfte van sy produksievermoë gewerk.

Verster sê 85 poste word nou behou en daar is die moontlikheid dat nog 30 mense aangestel gaan word. Hy hoop ook dat Amsa kontrakte kan behou en daardeur potensiële werkverliese by diensverskaffers kan voorkom.

Vaal Meltshop is in Desember omvattend hersien om te verseker die aanleg bly betroubaar wanneer produksie verhoog word. Insetmateriale is ook op groot genoeg skaal bekom om tekorte af te weer wat bedrywighede kan vertraag.

Verster is “vol vertroue” dat die aanleg teen die tweede helfte van Februarie ten volle in bedryf sal wees.

“Met Vaal Meltshop ten volle in bedryf, aanvullend tot ons drie smeltoonde in Newcastle en Vanderbijlpark, verwag ons dat ons meer as in staat sal wees om oor die volgende paar maande in die staalvraag in Suid-Afrika en sy buurlande te voorsien.”

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersvereniging Neasa, sê baie staalhandelaars en -eindgebruikers het reeds weens die tekort groot bestellings in die buiteland geplaas omdat Amsa nie in die vraag kon voorsien nie.

Hy is egter uitgesproke dat invoer ondoeltreffend is weens die invoertariewe op staalprodukte, iets waarvoor Amsa gepleit het toe die probleem geheers het van goedkoop staal vanuit onder meer China wat die land teen minder as kosprys invloei.

Die departement van handel, nywerheid en mededinging raam dat tot 20% van die staal wat plaaslik gebruik word, ingevoer word, die meeste daarvan uit China, Rusland en Taiwan.

’n Invoertarief van 10% en ’n verdere beskermingsheffing van 8% word op staalinvoer gehef.

Papenfus meen dat die regering Amsa se monopolie met die staaltariewe ondersteun en die plaaslike bedryf doodwurg.

“Dit verlam Suid-Afrika diepliggend, veral in die lig daarvan dat vervaardiging die enigste sakegebied is wat vinnig opgebou kan word ten einde werk te skep.”

Amsa het Saldanha Staal in 2019 toegemaak.

Meer oor:  Amsa  |  Neasa  |  Gerhard Papenfus  |  Invoer  |  Invoertariewe  |  Staalbedryf  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.