Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat beplan vir 3de vlaag, 25% erger as 2de

Die staat beplan vir ’n derde vlaag van koronavirus-infeksies wat 25% hoër gaan wees as die tweede vlaag.

Suid-Afrika is nie anders as ander lande nie en sal daarom nie ’n derde vlaag Covid-19-infeksies kan vryspring nie, reken prof. Ian Sanne. Foto: Unsplash

Prof. Ian Sanne sê die Covid-19-modelleringskonsortium raam nou ’n derde vlaag gaan vanaf middel Mei begin. Sanne is ’n kundige oor aansteeklike siektes aan die Universiteit van die Witwatersrand en lid van die ministeriële Covid-19-advieskomitee.

“Ons gaan ongelukkig onvermydelik ’n derde vlaag bereik. Ek is verbaas dis nog nie hier nie en glo dit hou hoofsaaklik verband met die skok van die tweede vlaag en die sosiale distansiëring wat dit meegebring het.”

Hy sê egter mense is besig om “lui te raak” met sosiale distansiëring. In drie provinsies word reeds ’n toename in gevalle gesien: die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes.

Die buurland eSwatini meld ook ’n styging in infeksies aan.

Volgens hom word verwag die derde vlaag gaan vanaf dié gebiede versprei.

“Wat ons probeer vermy, is ’n derde vlaag wat erger is as die tweede vlaag, maar ek moet die publiek waarsku ons beplanningsvlakke is vir ’n derde vlaag wat 25% hoër as die tweede vlaag is.”

Dit kan beteken dat Suid-Afrikaners hulle moet voorberei op strenger inperkings as wat hulle onlangs tydens die tweede vlaag gesien het, toe die aandklokreël van 21:00 tot 06:00 geduur het, strande en parke toe was en drankverkope verbode was.

Sanne het deelgeneem aan ’n aanbieding van Old Mutual Corporate oor maatskappye se verantwoordelikheid ten opsigte van inenting.

“Daar moet verstaan word Suid-Afrika is nie anders as ander lande nie. Ons praat van die immuniteit van die gemeenskap kry op ’n vlak waar die virus minder voorkom, maar kudde-immuniteit is iets waaraan nog nie gestand gedoen kon word nie.”

In dié stadium moet ons enige entstof gebruik waartoe ons toegang kry.
Prof. Ian Sanne

Hy glo die besluit om nie die AstraZeneca-entstof te gebruik nie, was verkeerd.

“Dit moes gebruik word, al het dit net ’n gedeeltelike beskerming gebied. In dié stadium moet ons enige entstof gebruik waartoe ons toegang kry.”

Hy sê daar is goeie voorbeelde, soos Chili, wat die Chinese entstof gebruik om soveel moontlik mense te bereik. Die voorkoms van die virus het daar drasties gedaal.

Ten opsigte van die finansiering van die entstof meen Sanne dit word nie deursigtig genoeg gedoen nie.

Moenie wag totdat entstof beskikbaar is

Dr. Grietjie Strydom, ’n onafhanklike gesondheidskonsultant en lid van die Right to Care Covid-19-inentingstaakspan, sê baie werkgewers wag vir al die “boublokkies” van die nasionale inentingsprogram om in plek te val en dat entstowwe op 17 Mei beskikbaar raak.

Prof. Ian Sanne, MIV-navorsingshoof aan die Universiteit van Witwatersrand en lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19.

Sy maan dat werkgewers al vandag met hul beplanning moet begin van hoe die inenting van hul werkers en die koste daarvan gaan werk.

“Jy kan nou al bepaal wat dit sal kos om jou werkers na ’n Dis-Chem te stuur of die inenting op jou eie perseel te laat doen, want jy weet wat dit per uur kos as ’n werker nie by die werk is nie.”

Volgens haar is lesse dekades gelede met MIV-toetse geleer. Toe dit aan apteke uitgekontrakteer was, het werkers hulle nie in groot getalle laat toets nie. Toe maatskappye dit self op hul persele begin aanbied het, het meer mense hulle laat toets.

’n Maatskappy wat besluit om inentings op sy perseel te doen, moet as ’n “meester-inentingsperseel” geregistreer word. Daar is kundiges wat daarmee kan help.

Sanne sê dis belangrik dat maatskappye “inkoop” in die een nasionale elektroniese inentings-datastelsel (EVDS) sodat die land vraag en aanbod kan bestuur.

Hy sê dit sal help voorspel waar en hoeveel voorraad nodig gaan wees.

Hy glo teen 17 Mei sal daar ’n plan wees hoe entstowwe deur beroepsgesondheidsondernemings beskikbaar gestel sal kan word.

Strydom sê dis ook belangrik dat maatskappye nou al hul bestuur aan boord kry, asook vakbondverteenwoordigers. “Selfs van hulle glo in die mites oor entstowwe en hulle is invloedryke mense in ’n organisasie. As hulle nie aan boord is nie, is daar nie ’n goeie kans op sukses nie.”

Malusi Ndlovu, direkteur van groot ondernemings van Old Mutual Corporate, meen die sektor wat werknemersvoordele bedryf (sekere versekeraars en batebestuursmaatskappye), het soos beroepsgesondheidsdienste ook ’n belangrike rol om te speel in die nasionale inentingsprogram.

“Die sektor is van die gevorderdste ter wêreld. Omtrent ses uit tien werkers se lewe word op die een of ander manier daardeur geraak, soos met aftreeprodukte. Die bedryf kan nie ’n buitestander wees in die poging om immuniteit in die land op te bou nie.”

Prabashini Moodley, besturende direkteur van Old Mutual Corporate, sê verskeie bystandspakkette is vir werkgewers ontwikkel om hulle by te staan met die inentingsprogramme.

Meer oor:  Koronavirus  |  Derde Vlaag  |  Inentings  |  Entstofprogram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.