Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat hoop steeds om Saldanha Staal te red

’n Konsepweergawe van die meesterplan vir die staalbedryf sal binne die volgende paar weke bekend gestel word, het Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, Dinsdag aangekondig.

As gesprekke tussen Amsa, Transnet en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie slaag, kan hy by Highveld Steel se ou staalmeule begin om spoorstawe vir Transnet te vervaardig wat tans nog ingevoer word.

Maar dit blyk te laat te wees om sukkelende staalfabrieke soos Saldanha Staal te red.

Die internasionale ooraanbod van staal, goedkoop invoer en die Covid-19-pandemie en -inperking het die krisis in die plaaslike staalbedryf net vererger, blyk dit uit ’n aanbieding Dinsdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid.

Verlede jaar is minder as 4,5 miljoen ton staal plaaslik verbruik, en die verwagting is dat dit vanjaar verder tot onder 3,3 miljoen ton sal daal, het Umeesha Naidoo, hoofdirekteur vir die metaalbedryf in die departement van handel, nywerheid en mededinging, gesê.

Ingevoerde staal verteenwoordig sowat 20% van plaaslike verbruik, maar dit het wel effe afgeneem danksy hoër invoertariewe wat die regering ingestel het.

Maar Chinese staalmeule het ongeag Covid-19 nie hul produksie verlaag nie, en wil hul staal teen lae pryse verkoop om kontant te genereer, het Naidoo gesê.

Die konstruksiebedryf sorg vir sowat 52% van die plaaslike vraag na staal, maar dié bedryf is juis ook in ’n erge insinking en krimp al vir twee jaar agtereenvolgens.

Die pandemie het die swak vraag na staal, die ooraanbod, die swak balansstate van staalondernemings en hul kontantvloei-uitdagings net vererger. Groot staalmeulens het volumes nodig om hul bedrywighede te kan hervat. Staalpryse gaan val en die plaaslike vraag sal na verwagting vanjaar met 26% daal, het Naidoo gewaarsku.

Toe ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) verlede jaar aankondig hy wil Saldanha Staal sluit, het die regering en staatsondernemings soos Eskom en Transnet asook die ysterertsgroep Kumba hulpmaatreëls van meer as R500 miljoen bymekaargeskraap om Amsa te ondersteun. Maar Amsa wou R4 miljard spaar met die sluiting van Saldanha Staal en die aangebode hulp was nie vir hom genoeg nie. Die Saldanha Staal-fabriek is sedert einde Maart dus in ’n staat van sorg en instandhouding, het Naidoo gesê.

Die regering hou egter vol om met Amsa te onderhandel en die groep te oortuig om opsies en voorstelle van minstens drie partye te oorweeg, wat insluit ’n swartbemagtigingsvennoot, ’n rolspeler in die stroomaf staalverwerkingsektor, asook ’n kleiner staalmeule wat toegang het tot ysterertsbronne.

’n Ander alternatief is om die fabriek te omskep in ’n nywerheidspark soos wat by Highveld Steel gedoen is waar daar tans 1 597 mense werk by 54 verskillende nywerheidshuurders op die perseel.

Volgens Naidoo is gesprekke begin tussen Amsa, Transnet en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie om ’n gesamentlike onderneming te begin wat by Highveld Steel se ou staalmeule spoorlynstawe vervaardig, wat tans nog ingevoer word.

Oor die onlangse besluit om die uitvoer van skrootmetaal te verbied, het Patel gesê daar is 10 staalmeule en 123 smelterye wat skrootmetaal gebruik. Voor die ekonomiese insinking en die Covid-19-pandemie is skrootmetaal teen R2 500 per ton verkoop, maar die pryse het sedertdien tot soveel as R4 500 per ton gestyg. Dit is om dié skerp prysstygings te vermy dat besluit is op die perk op die uitvoer van skrootmetaal.

Die nasionale tesourie werk ook tans aan ’n proses om ’n uitvoerbelasting op skrootmetaal in te stel.

Meer oor:  Saldanha Staal  |  Mynbou  |  Staalbedryf  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.