Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat kaap hawens en probeer dit wegsteek
Die Richardsbaai-hawe se steenkoolvragterminus. Foto: Bloomberg

Die nasionale hawe-owerheid beheer al 15 jaar lank onwettig die land se agt kommersiële hawens – en alle kontrakte wat sedert 2006 aangegaan is, is nou aanvegbaar.

Dié bevinding van die hawe-reguleerder van Suid-Afrika is reeds in 2016 in ’n verslag aan die minister van vervoer oorgedra, maar nie hy óf sy kollega by openbare ondernemings het iets aan die saak gedoen nie.

Trouens, die reguleerder het sy bes gedoen om die bevinding uit die openbare oog te hou weens die verreikende gevolge vir handel deur die hawens van Kaapstad, Durban, Richardsbaai, Nqgura, Oos-Londen, Saldanha, Port Elizabeth en Mosselbaai.

Nie net sal dit Transnet ontneem van die aansienlike geld wat hy uit die hawens maak nie, maar ook elke onderneming raak wat enigsins sake deur die hawens doen.

Die reguleerder is egter deur ’n hofsaak verplig om dit openbaar te maak.

Siyakhuphuka Investment Holdings wou die verslag sien vir sy hofsaak teen die nasionale hawe-owerheid (NPA), ’n afdeling van Transnet.

Die reguleerder het geweier en aangevoer dis ’n vertroulike verslag aan die minister van vervoer en het niks met Siyakhuphuka se saak te doen het nie.

Die hooggeregshof in Durban het egter die reguleerder verplig om dit aan Siyakhuphuka te lewer.

In die verslag, wat Rapport onder oë gehad het, stel die reguleerder dit duidelik dat die NPA in stryd met die Wet op Nasionale Hawens saamgestel is. Die wet het reeds in 2006 van krag geword.

Volgens die wet moet die NPA ’n onafhanklike entiteit wees met sy eie direksie en eie bankrekening. Sy inkomste moet aangewend word tot voordeel van die land se kommersiële hawens, deur byvoorbeeld beleggings in infrastruktuur of om tariewe laag te hou.

In werklikheid is die NPA egter ’n afdeling van Transnet en die Transnet-direksie se besluite oor die hawens sal die belang van Transnet dien.

Die belangebotsing is duidelik, aangesien Transnet ook ’n vervoermaatskappy is.

Die reguleerder sê in die verslag die minister van openbare ondernemings moet sorg dat die NPA korrek tot stand kom en stippel uit dat hy die hof sal nader om dit af te dwing indien nodig.

Mahesh Fakir, bestuurshoof van die reguleerder, het egter Donderdag aan Rapport erken die saak is steeds nie reggestel nie.

Hy sê Pravin Gordhan, wat in Februarie verlede jaar aangestel is as minister van openbare ondernemings, het belowe om aandag te skenk aan die saak.

Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, kon dit nie bevestig nie.

Die reguleerder het in sy 2016-bevindinge uitgespel hoe ernstig die probleem is:
  • Besluite deur die Transnet-direksie en groepshoof en ooreenkomste wat hulle aangegaan het namens die NPA is aanvegbaar en kan ongedaan gemaak word;
  • Ooreenkomste tussen die NPA en Transnet is in wese onafdwingbaar, want dit is een party wat met homself gekontrakteer het;
  • Die aanstelling van die NPA se bestuurshoof is onregmatig en al sy besluite en ooreenkomste deur hom aangegaan is aanvegbaar;
  • Die NPA het in Saldanhabaai onregmatig toestemming gegee vir die ontwikkeling van ’n grootmaat-vloeistofterminus op grond wat nie aan hom behoort nie;
  • Die NPA het onregmatig die eienaarskap van hawe-infrastruktuur aan sommige operateurs oorgedra vir die duur van hul konsessies.

Dié bevindinge het Siyakhuphuka nou laat bloed ruik.

Hulle het luidens hofstukke in 2008 op eie inisiatief ’n voorstel aan die NPA gemaak vir die oprigting van ’n houerterminus by die hawe in Richardsbaai.

Luidens hofstukke het die maatskappy vantevore onder meer ’n vragterminus in die Richardsbaai-hawe bestuur.

Siyakhuphuka sou in samewerking met die wêreld se grootste skeepsvragoperateur, die Deense Maersk-groep, die houerterminus ontwikkel teen ’n koste van tot R3 miljard.

Richardsbaai sou dan deel word van die internasionale netwerk vir die vervoer van skeepshouers. Dit kon grootskaalse nywerheidsontwikkeling in die dorp ontsluit en tot 50 000 werkgeleenthede skep.

Hoewel die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) spesifieke meganismes het om aanbiedinge te hanteer wat maatskappye op eie inisiatief maak, het die NPA eenvoudig in 2009 Siyakhuphuka se aansoek afgekeur en later aan ’n ander afdeling van Transnet, Transnet Port Terminal (TPT), die groen lig gegee om die ontwikkeling te doen.

Siyakhuphuka beveg dié besluite in die hof. Hy het nou sy hofstukke aangepas op grond van die reguleerder se verslag wat hy bekom het.

’n Verhoordatum moet nog vasgestel word.

Siyakhuphuka het ook ’n klag by die mededingingsowerhede ingedien dat Transnet sy heersende posisie misbruik, maar dit is vertraag deur ’n geskil oor die tribunaal se jurisdiksie.

Hoewel die mededingingsappèlhof bevind het die Mededingingstribunaal kan die saak aanhoor, het Transnet nou aansoek gedoen om appèl na die konstitusionele hof.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Invoere  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.