Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat kry RMB om te help met SAL
Daar is nog geen teken van die R10 miljard wat die SAL nodig het om weer in bedryf gestel te word nie. Foto: Bloomberg

Die departement van openbare ondernemings het Rand Merchant Bank (RMB) glo aangestel as raadgewer om aanbiedinge vir ’n belang in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te help hersien.

Die departement het Woensdag in ’n verklaring gesê hy het ’n raadgewer aangestel, maar het nie die naam bekend gemaak nie.

Twee mense wat kennis dra van die saak, maar wat anoniem wil bly, het aan Bloomberg bevestig dat dit RMB is. ’n Woordvoerder van RMB wou egter nie kommentaar lewer nie.

Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement, sê verdere inligting sal binnekort bekend gemaak word.

Luidens die verklaring sal die raadgewer die departement met “die beplanning van transaksies, uitvoerbaarheidsontledings, verkryging en implementering van transaksies en beleggings vir die nuwe lugdiens bystaan.

Hoewel daar in die reddingsplan vir die SAL geen melding gemaak is dat die staat bereid sal wees om ’n belang in die lugdiens te verkoop nie, sê die departement nou in sy verklaring dat “[die staat] ’n sekere mate van teenwoordigheid in die eienaarskap van die nuwe lugdiens sal handhaaf”.

Derek Mans, Solidariteit se lugvaartverteenwoordiger, het in Julie aan Netwerk24gesê hy sou verbaas wees as die staat dit regkry om private beleggers na die lugdiens te lok.

“Met dié dat die reddingsplan dit duidelik stel dat die staat die enigste aandeelhouer in die lugdiens gaan wees, kan ek nie sien hoe private beleggers gelok kan word nie. Watter belegger sal geld in ’n onderneming stort as hy geen sê het in hoe dit bestuur word nie?” wou hy toe weet.

Die SAL is in sakeredding en het meer as R10 miljard nodig om ’n reddingsplan tot uitvoer te bring.

Krediteure het dié plan reeds op 14 Julie goedgekeur.

Hoewel Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders wat by die SAL aangestel is, skriftelik deur die staat in kennis gestel is dat hy die geld in die hande sal kry, is daar steeds geen teken daarvan nie.

Daar is ook geen aanduiding waar die geld vandaan gaan kom nie.

Tito Mobweni, minister van finansies, het al herhaaldelik gesê die staat is nie bereid om meer geld vir die SAL te gee nie.

Die sakeredders het voorheen aan Netwerk24 bevestig dat hulle dringend R3,8 miljard nodig het om met die reddingsplan te kan begin.

R2 miljard hiervan sal vir vrywillige skeidings- en afleggingspakkette gebruik word.

LEES OOK: Sakeredders: R3,8 mjd. nou nodig vir SAL

Die departement sê in die verklaring dat hy tans hard werk om die lugdiens weer aan die gang te kry.

Hy het bevestig dat daar voortgegaan word met die herstrukturering van die lugdiens, en dat ’n nuwe, kleiner direksie binnekort aangestel sal word.

Die staat het reeds aangekondig dat hy Philip Saunders as waarnemende uitvoerende hoof van die SAL aangestel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.