Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat probeer steeds plan maak met Saldanha Staal
Agter die dorp kan die Saldanha Staal-aanleg gesien word. Foto: Argief

ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se besluit om sy aanleg in Saldanha op die Weskus te sluit steek die staat steeds dwars in die krop.

Die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid het Vrydag in ’n verklaring gesê hy wil die invloed van dié besluit met Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, bespreek.

Duma Nkosi, voorsitter van die komitee, het reeds in die laaste week van Februarie op ’n komiteevergadering gesê hulle is baie bekommerd oor die ekonomiese impak wat die sluiting op die gebied sal hê.

Amsa het op 11 November aangekondig dat hy die aanleg gaan sluit. Hy het 900 werkers afgedank en die aanleg is reeds in ’n stand van sorg en instandhouding geplaas.

Onmiddellik nadat Amsa aangekondig het dat hy die aanleg gaan sluit, was daar versoeke dat hy eerder die aanleg moet verkoop.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, hou egter voet by stuk dat as hulle nié die aanleg winsgewend in bedryf kan hou nie, is dit hoogs onwaarskynlik dat ’n ander maatskappy dit kan doen.

Hy het in November bevestig dat Amsa twee aanbiedings vir die koop van die aanleg ontvang het. Albei is egter van die hand gewys.

Nkosi sê in die verklaring dat die staat uit sy pad gegaan het om Amsa te help om Saldanha se deure oop te hou.

Dit sluit in die instel van invoertariewe op staal, en die onderneming dat die staat staal vir infrastruktuurprojekte by Amsa sal koop.

Volgens Amsa is die hoë koste van elektrisiteit een van die groot redes hoekom Saldanha nié winsgewend bedryf kan word nie. Sy aansoeke by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om laer tariewe het egter op dowe ore geval.

Nkosi het gesê hy wil die mense wat in die Saldanha-omgewing woon en deur die sluiting geraak word, verseker dat die staat hul “lot ernstig opneem en sal voortgaan om ’n alternatiewe oplossing te soek”.

Meer oor:  Amsa  |  Ebrahim Patel  |  Saldanha Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.