Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staat trek skouers op oor SA Express se salarisse

Die regering het nie ’n meganisme oor om in te gryp om agterstallige salarisse aan werknemers van SA Express te betaal nie.

Enige bydrae wat die regering kan maak, moet na die likwidateurs van die staatsbeheerde streeklugdiens gaan, en die likwidateurs besluit dan ingevolge likwidasiewetgewing hoe die geld aangewend word om krediteure te betaal.

Dís die verduideliking wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gee in ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag van Andrew Arnolds, Wes-Kaapse EFF-lid in die Nasionale Raad van Provinsies.

Arnolds wou weet of die departement van openbare ondernemings nog enigsins probeer help om agterstallige salarisse en afleggingspakkette vir werknemers van SA Express te beding.

Maar Gordhan sê die departement het ’n onafhanklike regsmening ingewin.

Hiervolgens is die SA Express-werknemers ongesekureerde krediteure en word hul eise gehanteer ingevolge art. 98A van die Insolvensiewet. Hul eise is onderworpe aan die voorkeurorde soos voorgeskryf in die wet.

Die likwidateurs mag wel besluit om iets aan die werknemers te betaal as daar geld oor is nadat bates verkoop is en die voorkeurkrediteure betaal is, blyk dit.

In Februarie het die likwidateurs in die parlement genoem dat werknemers ’n eis van sowat R183 miljoen teen die lugdiens het, terwyl sy bates teen Mei verlede jaar teen net R113 miljoen gewaardeer is.

Andrews wou in ’n afsonderlike vraag weet hoeveel die regering aan die sakereddingspraktisyns van SA Express betaal het.

Hierop het Gordhan geantwoord dat die regering nog niks betaal het vir die tydperk waarin die sakereddingspraktisyns van Februarie 2020 tot April 2020 die lugdiens probeer red het nie. Daar is wel ’n uitstaande bedrag van R1,25 miljoen vir die werk wat gedoen is, en dit is nou ’n eis teen die lugdiens se likwidasieboedel.

SA Express se sakeredding het misluk en die lugdiens is in April 2020 in voorlopige likwidasie geplaas. Volgens Gordhan sal die likwidateurs se gelde betaal word wanneer die likwidasie- en verspreidingsrekening bevestig is, teen ’n tarief van 10% van roerende bates en 3% van onroerende bates.

Intussen is Gordhan se departement ook nie bewus van enige wangedrag deur die direksie en topbestuur van SA Express wat ondersoek of optrede verg nie, blyk uit ’n ander antwoord van hom op ’n vraag van Mlindi Nhanha, Oos-Kaapse DA-lid in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die laaste direksie van SA Express het bestaan uit vooraanstaande professionele mense en het onder die omstandighede hul bes gedoen, meen Gordhan. Dit was volgens hom die vorige direksies en bestuurspanne wat die lugdiens ten gronde gebring het weens wanbestuur, en dis hulle wat verantwoordbaar gehou moet word. Oor stappe teen laasgenoemdes het Gordhan egter nie meer besonderhede gegee nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.