Dis nog nie bekend presies hoeveel die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingspraktisyns die regering kos nie, maar dit kan naby die R169 miljoen wees wat onlangs in die media genoem is.

’n Deel van die SAL-vloot.
Dit was Woensdag die antwoord van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in die parlement oor die totale koste van die sakeredders wat nou al byna ’n jaar by die SAL bedrywig is.
Onderhandelinge met ’n hele aantal belangstellende banke, lugdienste en ander private instellings om ’n strategiese belang in die SAL te koop is nou in ’n kommersieel sensitiewe fase, en Gordhan wou nie meer besonderhede daaroor gee nie.
Hy het wel gesê die onderhandelinge kan teen einde Desember of vroeg volgende jaar afgehandel wees. Die regering het ’n transaksie-adviseur aangestel wat die proses lei.
Op ’n vraag van die EFF het Gordhan gesê dis nog nie moontlik om te sê of die staat ’n meerderheidsbelang in die nuwe SAL sal hê nie, want die onderhandelinge is nog nie by daardie fase van die gesprek nie.
Hy het bevestig die potensiële private vennote het duidelik aangedui hulle gaan nie die SAL se historiese skuld of die koste van herstrukturering oorneem nie. Die staat sal daarvoor moet opdok, en die koste van herstrukturering is sowat R14 miljard, het Gordhan gesê.
Dit was in antwoord op ’n vraag van Natasha Mazzone, DA-speaker in die parlement, oor of die herstrukturering R10,5 miljard gaan kos of tot soveel soos R16 miljard.
Gordhan het verduidelik die R10,5 miljard sal gebruik word om krediteure te betaal, vir personeelkoste soos afleggingspakkette en vroeë aftreepakkette, asook vir eise vir vliegkaartjies wat gekoop, maar nie gebruik is nie.
Gordhan het die sakereddingsproses verdedig en gesê likwidasie sal nadelig wees vir werkers.
Verdere werk sal gedoen word om te sorg dat die SAL-filiale Mango en SAL Tegnies ook herstruktureer word om volhoubaar te wees.