Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staking by Comair dreig voor Paasnaweek

Comair het passasiers die versekering gegee dat ’n dreigende staking by lughawens nie Paasnaweek-reise sal ontwrig nie. Hy stel wel voor dat passasiers hul instapkaarte aanlyn bespreek om vertragings te vermy.

Comair, wat Kulula en British Airways in Suid-Afrika bedryf, sê hy doen alles moontlik om ontwrigting weens 'n moontlike staking oor die Paasnaweek te minimaliseer.

Comair bring ’n dringende interdik in die arbeidshof teen die metaalwerkersvakbond Numsa, wat beplan om voor die Paasnaweek met die staking te begin. Die partye vergader ook Donderdag om 10:00 om die kwessie te bespreek.

Numsa het Comair Dinsdag per kennisgewing ingelig dat sy lede van Donderdag af gaan staak. Altesame 704 van Comair se sowat 2 200 lughawepersoneel is lede van Numsa.

Die vakbond se griewe hou verband met 21 van sy lede wat beduidend meer as die ander 97% verdien. Dié lede verdien tussen R600 en R7 900 meer as die ander werkers.

Comair sê dit is weens bevordering en onderhandelinge wat sedert 2009 ontwikkel is om personeel te behou.

Numsa vereis dat ál sy lede dieselfde salaris moet verdien en dat die hoogste salaris as maatstaf gebruik moet word.

In ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, sê Comair dat hy doodeenvoudig nie al 683 ander werkers se salarisse kan opskuif tot dié van die 21 lede wat die meeste verdien nie.

“Ons bly toegewyd tot voortgesette onderhandelinge met Numsa,” sê Wrenelle Stander, hoof van Comair se lugdiensafdeling.

Hoewel hulle ’n wedersyds voordelige uitkoms vir albei partye wil bereik, moes die lugdiens die arbeidshof nader om ontwrigting oor die Paasnaweek te voorkom, sê Stander.

Comair het ’n omvattende noodplan gereed om sy daaglikse bedrywighede voort te sit.

“Ons sal alles moontlik doen om ons kliënte ingelig te hou en om die impak van die moontlike staking te minimaliseer.”

Stander stel voor dat passasiers óf die aanlyn diens óf die selfhelpkiosks op die lughawe gebruik. Vrywilligers van ander afdelings gaan ook help om die ontwrigting tot die minimum te beperk.

Meer oor:  Kulula  |  Numsa  |  Comair  |  British Airways  |  Vakansiebestemming  |  Stakings  |  Lughawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.