Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staking kos Dis-Chem al R50 miljoen

’n Uitgerekte en gewelddadige staking by van sy verspreidingsentrums is die belangrikste rede waarom Dis-Chem meen dat hy nie vanjaar sy teiken van winsgroei van tussen 16% en 24% gaan haal nie.

Dis-Chem het Maandag aangekondig hy wil op die JSE noteer.

Die groep raam dat hy sedert die middel van November reeds R50 miljoen verloor het weens die staking wat steeds voortsleep.

Dis-Chem se aandeelprys het vroegoggend met meer as 7% geval nadat hy dié nuus in ’n handelsverklaring gedeel het. Teen 10:30 was die aandeel 2,65% laer vir die dag op R25,93.

Die groep se inkomste het in die 22 weke vanaf September met 10,7% tot R9,4 miljard gegroei. Dit klop die groei van 8,6% in verkope by sy groter mededinger, Clicks, maar die groep beskryf dit as “onder-verwagting”.

Ivan Saltzman, Dis-Chem se stigter en uitvoerende hoof, sê soos in die vorige jaar bly verbruikers onder druk en soek hulle waarde vir hul geld.

“Ons strategie van alledaagse lae pryse en die keuse wat ons aan ons klante bied, het ons in staat gestel om markaandeel in al ons kernkategorieë te wen.”

Die groep het in Oktober en November 500 000 nuwe klante met sy MicroPopz-veldtog gelok. In dié promosie het klante wat R200 bestee het, ’n Disney-mikrofiguurtjie gekry. Dis-Chem sê ’n groot persentasie van dié nuwe klante het lojaliteitskaarte aangeskaf.

Desember was vir die maatskappy ’n baie moeilike maand weens stakings, wat drie uit sy vier verspreidingsentrums landwyd geraak het.

“Hoewel gebeurlikheidsplanne in werking gestel is om minimale ontwrigting in ons winkels te verseker, het ons geleentheidsverkope in Desember verloor, grootliks weens uitdagings met die verskaffing van voorraad.”

Dit het die groep se verkope in Desember in vergelykbare winkels met 2,5% laat daal en in alle winkels met 6,2% laat groei, wat vir die groep teleurstellend was.

Dit het beteken dat Desember ook die maand was waarin Dis-Chem in die hele jaar die laagste persentasie markaandeel gewen het.

Dinge het wel teen Januarie verbeter, en in dié maand het kleinhandelverkope met 10% gestyg.

Dis-Chem doen verslag in twee afdelings: kleinhandel, dus hoe sy winkels vaar; en groothandel, dus sy verspreidingsarm.

Kleinhandel

Verkope in Dis-Chem-winkels vir die 22 weke tot 2 Februarie het met 10% tot R8,6 miljard gestyg. Verkope in vergelykbare winkels het egter met net 3,7% gestyg, wat beteken baie van die verkope word aangedryf deur die 13 nuwe winkels wat Dis-Chem in die tydperk geopen het.

Pryse het in die tydperk met net 1,1% gestyg, wat beteken daar was ’n stewige styging in die volume verkope.

Dis-Chem sê kwaai mededinging maak dit vir hom moeilik om pryse skerp te verhoog en daarby is prysstygings deur die gereguleerde verhoging van net 1,26% in die enkeluitgangsprys op voorskrifmedisyne vanaf 1 Maart verlede jaar geraak. Waaroor Dis-Chem vir die tweede helfte van sy boekjaar opgewonde is, is dat die enkeluitgangsprys met 3,78% gaan styg.

Medisyne verteenwoordig meer as ’n derde van Dis-Chem se verkope.

Groothandel

Die afdeling se inkomste het met 8,4% tot R6 miljard gestyg. Verkope aan Dis-Chem-winkels het met 7% gegroei en aan onafhanklike apteke met 18,7%, grootliks danksy die verkryging verlede jaar van die Quénet’s-apteekgroep in die Wes-Kaap, ’n transaksie wat die Mededingingskommissie in Oktober goedgekeur het.

Nagenoeg 2 300 werknemers, oftewel 13% van Dis-Chem se arbeidsmag, behoort aan die vakbond Nupsaw en het sedert 16 November 2018 oor verhogings gestaak.

Volgens ’n werkplekooreenkoms in Januarie 2018 moet die vakbond 30% van werknemers verteenwoordig voordat die vakbond namens personeel kan onderhandel en Dis-Chem hou vol dat hy nie regstreeks met die vakbond onderhandel nie.

Die vakbond eis ’n minimum loon van R12 500 vir alle werknemers en ’n jaarlikse verhoging van 12,5% wat vir die volgende drie jaar gewaarborg word, sowel as ’n gewaarborgde jaarlikse bonus. Daarby eis hulle dat alle werknemers wat weens saakbeskadiging en aanvalle op ander werknemers afgedank is, weer aangestel word.

“Die groep meen die eise is onredelik, gegewe die ekonomiese klimaat en die aard van die nywerheid waarin die groothandelsafdeling meeding,” sê Dis-Chem.

In wat as ’n “geskiedkundige eerste” beskryf word, het die maatskappy ’n hofbevel in die arbeidshof bekom wat Nupsaw verbied om tot 27 Februarie vanjaar protesoptredes op sy persele te hou, hoewel hulle magtiging het om te staak. Die groep sê ondanks die hofbevel is daar steeds betogers by die verspreidingsentrums wat geraak word.

Die groep sê hoewel alles moontlik gedoen is om die impak van die staking teen te werk, is dit erger as verwag is. “Ons hou aan om ekstra kostes aan te gaan.”

Die impak sluit in bykomende uitgawes vir sekerheid by die groep se hoofkantoor en sekere winkels, en die hervestiging van nagenoeg 400 werknemers van die hoofkantoor om hul veiligheid te verseker.

Produktiwiteit het ook gedaal omdat tydelike werkers opgelei moes word.

Dis-Chem gee nog nie nadere ramings oor sy wins vir die ses maande tot einde Februarie nie.

Meer oor:  Dis-Chem  |  Apteke  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.