Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staking: SAL bly op die grond

’n Dringende nuwe loonaanbod wat Donderdagmiddag aan vakbonde gedoen is, kon nie die SAL-staking voorkom wat van Vrydag af ’n omvattende vervoerchaos gaan veroorsaak nie.

Sowat 3 000 lede van Numsa en die SA Kajuitpersoneelvereniging is sedert 04:00 op ’n “onbepaalde staking”.

Hul lede sluit kajuitpersoneel, tegnici en personeel by aanmeldpunte in.

Die SAL het gevolglik al sy binnelandse, buitelandse en streekvlugte gekanselleer wat vir Vrydag en Saterdag geskeduleer was.

Geen SAL-vlug sal op dié twee dae vertrek nie en net die vlugte wat van internasionale bestemmings af terugkeer, sal geakkommodeer word, berig eNCA.

Vlugte wat aangebied word saam met sy vennote, soos SA Express, Mango en SA Airlink, word nie gekanselleer nie.

Werknemers van SAL Tegnies beplan wel ook om te staak en dit kan die instandhouding van vliegtuie van ander lugdienste – soos British Airways (BA), kulula.com en Mango – raak en moontlik tot vertragings van hul vlugte lei.

eNCA het Donderdagmiddag laat berig nuwe onderhandelinge het ook skipbreuk gely.

Ons gaan daardie lugdiens hok. Hulle moenie kan beweeg nie. Dit is ’n onbepaalde staking.

Die vakbonde wil verhogings van 7,5% tot 8% hê, terwyl die SAL aanvanklik 5,9% aangebied het – soveel as wat sy vlieëniers ontvang het.

Die vakbonde eis ook werksekerheid vir minstens drie jaar.

Die SAL het intussen Maan­dag aangekondig dat hy begin met herstrukturering, wat tot die uitdiensstelling van 944 mense kan lei.

Deon Fredericks, waarne­mende finansiële hoof, het Dinsdag­ in Kempton Park gesê die uitdiensstellings is nodig om finansiële stabiliteit te verseker.

Die SAL het Maandag ’n aansoek by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingedien om ’n senior kommissaris aan te stel om as fasiliteerder op te tree.

Fredericks sê met die herstruktureringsproses kan die SAL R700 miljoen bespaar.

Irvin Jim, sekretaris-generaal van Numsa, het volgens Fin24 Woensdag gesê die kennisgewing van herstrukturering is om die aandag van die loononderhandelinge af te lei.

“Ons gaan daardie lugdiens hok. Hulle moenie kan beweeg nie. Dit is ’n onbepaalde staking.

“As hulle dink ons speel, maak hulle ’n groot fout,” sê Jim.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Donderdag in ’n toespraak op ’n konferensie in New York gesê die SAL “is nie te groot om te misluk nie”.

“As daar taai besluite is om te neem, sal ons dit neem,” het hy gesê. 

Gordhan het gesê van die vakbonde is “polities gemotiveerd”. 

“Hulle bring die toekoms van die lugdiens en almal se poste in die gedrang. Hopelik sal hulle tot hul sinne kom voor dinge te ver gaan.”


Wat nou as jy ’n kaartjie het?

Passasiers wat geraak word, sal hul vlugte sonder enige ekstra koste kan herskeduleer.

Dit is wel onderhewig aan beskikbaarheid.

Passasiers kan ook hul volle kaartjiegeld terugkry.

SAL-passasiers kan die lugdiens se inbelsentrum by 0861 359 722 bel.

Die lugdiens Comair, wat British Airways (BA) en kulula.com bedryf, sê gebeurlikheidsplanne is reeds ingestel indien die staking by die SAL se tegniese afdeling ook hul vlugte beïnvloed. Comair se kliënte kan ba.com of kulula.com besoek om te kyk of hul vlugte beïnvloed word.

Passasiers van BA kan 011 921 0222 skakel vir meer inligting en passasiers van kulula.com kan 086 158 5852 skakel.

SA Express en Mango het verlede maand ook deurgeloop toe daar probleme by SAL Tegnies was en moes toe ook van hul vliegtuie hok.

Mango het Donderdag gesê hy het ook gebeurlikheidsplanne ingestel.

Hy raai sy passasiers aan om die status van hul vlugte dop te hou, hetsy op sy sosialemediaplatforms of deur sy inbelsentrum by 086 100 1234 te bel.

Meer oor:  Sal  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.