Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Staking: Shoprite ‘het plan’ om medisyne af te lewer

Die staking by die farmaseutiese groothandelaar Transpharm het Donderdag ná langer as ’n week ook na die Wes-Kaap en Johannesburg uitgebrei, sê Mametlwe Sebei, president van General Industries Workers’ Union of South Africa (Giwusa).

Transpharm is ’n volfiliaal van Shoprite wat ook aan ander apteke medisyne lewer.

Die werkers het Donderdag ’n optog na die kantoor van die nasionale departement van gesondheid in Pretoria gehou. Volgens Sebei vra Giwusa die departement om in te gryp by hul loononderhandelinge.

Dit kom nadat die vakbond Woensdag met Transpharm vergader het en die maatskappy sy “boeke oopgegooi het om te wys hy kan nie aan hul vereistes voldoen en winsgewend bly nie”.

“Transpharm het die blaam vierkant op die skouers van die regering se beheer van medisynepryse geplaas.

“As die departement medisynepryse wil beheer, moet hy ook lone beheer. Die land kan nie ’n bekostigbare gesondheidsektor bou op goedkoop arbeid nie. ’n Farmaseutiese bedryf kan nie op hongerlone gebou word nie. Dan moet Transpharm genasionaliseer word.”

Sebei sê volgens Transpharm gaan die situasie onvolhoubaar word as die staking nog ’n paar dae duur.

“Ons weet hulle kan nie voorraad aflewer nie,” sê hy.

Netwerk24 het vrae aan die Shoprite-groep gestuur om uit te vind of daar voorraadtekorte van medisyne aan die ontstaan is. Die maatskappy het nie dié vraag beantwoord nie.

Shoprite het bloot dieselfde reaksie as ’n week gelede gestuur toe hy gesê het hy sal “so doeltreffend moontlik onder die omstandighede” aan kliënte se bestellings en aflewerings kan voldoen.

“Daar is gebeurlikheidsplanne om bedrywighede so normaal moontlik te hou en enige moontlike risiko’s te verminder.”

Die maatskappy het ook nie bevestig of die staking wel na Johannesburg en die Wes-Kaap uitgebrei het nie.

Die Shoprite-groep het in die pas afgelope boekjaar voorraadtekorte op sy rakke ontwikkel weens ’n groot staking by ’n verspreidingsentrum wat nie deur hom besit word nie. Dit het sy verkope in die eerste helfte van die boekjaar negatief geraak.

Jan Magolego, voorsitter van die werkvloerverteenwoordigers van Giwusa, het verlede week aan Netwerk24 gesê die maatskappy beweer in ’n hofaansoek hy verloor R11 miljoen per dag weens die staking.

Die Shoprite-groep wou nie hierop kommentaar lewer nie.

Net minder as 400 lede van Giwusa staak reeds van verlede Dinsdag af in Pretoria.

Die vakbond eis ’n minimum loon van R12 500 per maand.

’n Algemene assistent ontvang tans R4 500 per maand.

Magolego sê die vakbond en werkers is bereid om ’n driejaarooreenkoms te sluit sodat uiteindelik by dié bedrag uitgekom word.

Volgens Sebei is ’n optog Donderdag ook na die Shoprite-groep se hoofkantoor in Kaapstad gehou “omdat Shoprite sy uitvoerende hoof miljoene rande per jaar betaal en werkers nie baat vind by die maatskappy se vertoning nie”.

Die Shoprite-groep het verlede week gesê hy glo werkers is geregtig op redelike en ordentlike werktoestande en dat hy markverwante salarisse betaal.

Meer oor:  Shoprite  |  Transpharm  |  Loononderhandelinge  |  Kleinhandelaars  |  Medisyne  |  Stakings  |  Vakbonde  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.