Standard Bank het aangekondig dat hy ook nie meer tjeks gaan uitreik nie.

Standard Bank gaan einde van die jaar nie meer tjeks verwerk nie. Foto: Barbara Bradley
Die bank het Woensdag in ’n verklaring gesê hy gaan van Desember nie meer tjekboeke laat druk nie.
Dit is weens ’n groot afname in die gebruik van tjeks, en ook omdat al hoe meer van sy kliënte aanlyn bankdienste verkies.
FNB, Investec en Absa het vroeër vanjaar ook aangekondig dat hulle die gebruik van tjeks gaan uitfaseer.
Busi Radebe, betalingshoof van Standard Bank, sê dat kliënte vier maande het om ander betaalmetodes te begin gebruik.
Standard Bank sê tjeks was voorheen ’n baie gewilde manier om betalings mee te doen. In ’n stadium kon kliënte betalings van tot R5 miljoen met ’n enkele tjek maak. Namate die gewildheid van tjeks afgeneem het, is dié limiet ook verlaag.
Sedert 1 Mei kan net betalings van tot R50 000 per tjek gemaak word.
Die tjeks word soos volg uitgefaseer:
- 1 September: Tjeks sal nie meer spesiaal verwerk word nie. Dit sal sewe dae duur voordat ’n tjek verwerk word, en nie vinniger nie.
- 1 Oktober 2020: Geen nuwe tjekboeke sal uitgereik word nie.
- 31 Desember 2020: Geen tjek sal as bewys van betaling aanvaar word nie.