Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Standard Bank se MyMo: Wat jy moet weet
standard bank
Standard Bank is Suid-Afrika se grootste bank. Foto: Getty Images

Die digitalisering van Standard Bank se kernstelsels is afgehandel en al sluit talle takke, sê dié 156 jaar oue bank, sal hierdie moeilike migrasie verbruikers in staat stel om die goedkoopste dienste nóg te benut.

Standard Bank het Woensdag in Rosebank in Johannesburg sy nuwe MyMo- transaksionele bankrekening bekend gestel. Dit is die eerste volwaardig digitale produk wat hy op sy nuwe digitale bankstelsel gebou het.

Funeka Montjane, uitvoerende hoof van persoonlike en sakebankdienste, het gesê die digitalisering van ’n tradisionele bank is ’n enorme proses. Sy het verduidelik dat as net ’n digitale fasade toegepas word en die kernstelsels van ’n bank nie self gedigitaliseer word nie, dan kan die bank nie eintlik die voordele van volledig digitale dienste aan sy kliënte oordra nie.

“Amper alles wat ons oor die afgelope tien jaar gedoen het, was om ons kernbankstelsel, wat uit die jare 60 kom, te vervang. Vandag kan ons vir julle sê dis klaar.”

Dié migrasie beteken dat digitale aksies op ’n slimfoon of rekenaar nie steeds later “agter die skerms” verwerk moet word om by ’n bestaande papierstelsel in te pas nie. So ’n digitale fasade beteken die bank hang steeds af van sy fisieke takke, dokumente en prosesse wat min of geen kostebesparings en gerief aan verbruikers buiten die ervaring van ’n app of webwerf kan aanbied nie.

Standard Bank het in Maart bekend gemaak dat 91 takke landwyd gaan sluit.

Dit is onverantwoordelik om infrastruktuur oop te hou waarvoor kliënte uiteindelik betaal as dit nie gebruik word nie.
Funeka Montjane

Montjane sê sowat 70% van alle redes wat hul kliënte in 2018 verskaf het oor waarom hulle ’n tak besoek, is nou gedigitaliseer en met app-gebaseerde dienste vervang.

“Vanweë ons groot sakebankafdeling, wat baie afhanklik van kontantdienste is, sal ons wel nie ’n bank sonder takke word nie, maar die takke sal aanhou verminder en deurlopend geëvalueer word.”

Montjane wou haar nie uitlaat oor die werkverliese nie, maar sê: “Dit is onverantwoordelik om infrastruktuur oop te hou waarvoor kliënte uiteindelik betaal as dit nie gebruik word nie. Die feit is dat takke deesdae vir die grootste deel van die maand dolleeg is.”

Die MyMo-bankrekening kan werklike kostebesparings en gerief aan verbruikers bied, sê Cowhan Govender, hoof van alledaagse bankdienste.

“Tegnologie het die vermoë om almal op gelyke voet te plaas. Deur middel van ’n selfoon, wat almal bykans het, word die gaping tussen ryk en arm kleiner in terme van die dienste en produkte tot hul beskikking.”

Meer oor die MyMo-rekening

  • Die MyMo-rekening se basiese bankkoste is R4,95 per maand, maar daarna betaal rekeninghouers per transaksie.
  • Dit word volledig digitaal op Standard Bank se webwerf of op die bank se app geopen.
  • Geen dokumente is nodig nie, aangesien ’n selfie gebruik word om jou identiteit saam met sekere besonderhede regstreeks by die departement van binnelandse sake te verifieer. (FNB het ook vanjaar die vermoë geskep om ’n rekening met ’n selfie te open.)
  • Die MyMo-rekening is tans slegs vir nuwe kliënte beskikbaar, maar dit sal binnekort ook aan bestaande Standard Bank-kliënte bekend gestel word.
  • Saam met jou MyMo-rekening kry jy ’n gratis Standard Bank Mobile-simkaart. Houers van dié rekening hoef dus nie die toegangkoste van R39 per maand vir die selfoonnetwerk te betaal nie.
  • Soos met ander Standard Bank-rekeninge verdien kliënte hul bankkoste vir dié simkaarte terug in data of lugtyd, en soos hulle hul bankkaarte gebruik, verdien hulle nóg data of lugtyd. Vir elke R20 wat op ’n kaart spandeer word, verdien MyMo-gebruikers 1 megagreep (MB) data benewens die gratis maandelikse 500 MB wat saam met die rekening kom.
  • Verbruikers kan ook met die MyMo-rekening ’n virtuele bankkaartnommer skep om vir spesifieke aanlyn doelwitte te gebruik.
  • Om geld by ’n kitsbank te onttrek kos R6,50 en R1,40 by sekere kleinhandelaars, terwyl elektroniese transaksies R3,50 kos.
  • Teen R1 per maand kry jy SMS-kennisgewings vir elke debietorder.

Montjane sê sy verstaan hoe belangrik kontant nog wel in Suid-Afrika se ekonomie is, en dus word sulke transaksies ook so goedkoop as moontlik gemaak.

“Maar as jy nie ’n digitale voetspoor het nie, kan ons nie sien hoe jy in vandag se werklikheid bestaan nie. Ons moet jou kan ken om jou die werklike afslag en belonings van ons dienste te kan gee.”

Meer oor:  Standard Bank  |  Bankdienste  |  Bankbedryf  |  Digitale Bankdienste  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.