Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Standard Bank se wins val 53% oor slegte skuld

Die Standard Bank-groep se wins vir die boekjaar tot einde Desember het met 53% tot R14,5 miljard gedaal ná ’n skerp toename in die kredietafskrywingskoste om voorsiening te maak vir slegte skuld.

Standard Bank se wins word erg geknou deur slegte skuld. Foto: Bloomberg

Die kredietafskrywingskoste het met 158% tot R20,5 miljard gestyg vir die boekjaar, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk se R7,9 miljard.

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof, sê die ontwrigting wat die staat van inperking vir ondernemings geskep het, het kliënte se kontantvloei nadelig geraak.

“Die tydelike verligting aan kliënte het ’n mate van hulp gegee, maar die trae herstel in die ekonomie is ooglopend in hoe lenings terugbetaal word en die vereiste om verligting wat gebied is, te verleng.

“Dit, tesame met die agteruitgang in aannames oor die ekonomie, het die voorsiening vir slegte skuld en kredietafskrywingskoste verhoog.”

Arno Daehnke, finansiële hoof, sê die kredietafskrywingskoste se beduidende toename weerspieël die agteruitgang in die ekonomiese omgewing, kliënte se risiko, asook die vooruitsigte daarvoor.

Die grootste gedeelte van die kredietafskrywingskoste is in die persoonlike en sakebankdienste. Daehnke sê die koste hier is verhoog deur die swak ekonomie, wat werkverliese en ’n daling in inkomste vir individue meegebring het en ondernemings se omset verlaag het.

Die verhoging in dié koste in die beleggingsbank hou met spesifieke kliënte verband en ’n groter waarskynlikheid van wanbetalings op korporatiewe lenings.

Digitale bankdienste versnel

Die inkomste van persoonlike en sakebankdienste het met 4% gedaal, deels weens die impak van laer gemiddelde rentekoerse.

Die inkomste uit kommissie en bankkoste het ook met 3% gedaal, ten spyte van ’n herstel in transaksies wat in die tweede helfte ervaar is.

Volgens Tshabalala het die inperking die aanvaarding van digitale bankdienste versnel.

Die getal transaksies wat digitaal plaasgevind het, het met 29% gestyg en het 99% van totale transaksies verteenwoordig.

Daarteenoor het fisieke transaksies nog nie heeltemal tot die vlakke van 2019 herstel nie.

Transaksies in banktakke in Suid-Afrika en die res van Afrika het onderskeidelik met 44% en 29% jaar tot jaar gedaal.

Bedryfsuitgawes is goed in toom gehou danksy die besparing wat verkry is nadat banktakke geherstruktureer is.

Kitsbanktransaksies het ook met 20% gedaal.

Jaar tot jaar het die aktiewe kliënte in Suid-Afrika effens met 135 000 gedaal tot 9,3 miljoen, hoewel ’n styging weer in die afgelope ses maande tot jaareinde beleef is.

Die hele afdeling se aktiewe kliënte het tot 14,8 miljoen toegeneem. Dit is grootliks vanweë kliënte in Afrika wat met 7% tot 5,4 miljoen toegeneem het.

Sy digitaal aktiewe kliënte in Suid-Afrika het met 15% tot meer as 3 miljoen gestyg.

Deposito’s baie hoër

Die deposito’s wat die groep ontvang het van kliënte, het skerp met 14% of R185 miljard gestyg tot R1 500 miljard.

“Kliënte het versigtig gebly en die inperking het tot die opbou van deposito’s gelei omdat minder bestee is en kontantvloei pligsgetrou bestuur is, gegewe die onsekere omgewing.”

Vooruitsig

Die groep verwag Suid-Afrika se ekonomiese herstel sal jare neem en sal soos elders verband hou met hoe doeltreffend die inentingsprogram is.

Die groep glo die herstel in sy belangrike finansiële maatstawwe soos wesensverdienste en opbrengs op ekwiteit tot die 2019-vlak, sal tyd neem.

Dividend betaal

Standard Bank het ook weer ’n dividend verklaar nadat die riglyne van die Reserwebank hieroor verander is.

’n Finale dividend van 240c per aandeel (2019: 540c) is verklaar, wat ’n uitbetalingsverhouding van 24% van sy wesensverdienste vir die boekjaar behels.

Meer oor:  Standard Bank  |  Bankdienste  |  Wins  |  Bankbedryf  |  Slegte Skuld  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Resultate  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.