Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Standard Bank skop teen stemming oor klimaat
Standard Bank se kantore in Kaapstad.

Standard Bank se direksie wil nie hê sy aandeelhouers moet stem vir ’n resolusie wat hom sal dwing om sy blootstelling aan risiko’s vir klimaatsveranderings openbaar te maak nie.

Die direksie meen die bankgroep is reeds deursigtig oor sy koolstofvoetspoor deur onder meer sy deelname aan die internasionale veldtog CDP, voorheen bekend as die koolstofopenbaarmakingsprojek, waarin maatskappye vrywillig hul kweekhuisgasvrystellings en hul risikoblootstelling aan klimaatsverandering bekend maak.

Die resolusie waaroor aandeelhouers op 30 Mei by die bankgroep se jaarvergadering in Johannesburg sal stem, is ingevolge die Maatskappywet aangevra deur die bekende aandeelhoueraktivis Theo Botha in samewerking met die Raith Foundation, ’n stigting wat hom vir maatskaplike geregtigheid beywer.

Die resolusie vra Standard Bank moet teen einde November vanjaar aan aandeelhouers verslag doen oor hoe blootgestel hy is aan klimaatsveranderingsrisiko deur sy uitleen-, belegging- en finansieringsbedrywighede.

Standard Bank moet ook sê wat sy beleid oor lenings aan steenkoolkragstasies en steenkoolmynbou is.

Volgens die aandeelhouersaktivismegroep Just Share het Standard Bank gevra die sperdatum vir die verslag moet tot Mei 2020 uitgestel word.

Tracy Davies, uitvoerende direkteur van Just Share, het Standard Bank lof toegeswaai dat die bank wel aandeelhouers se regte erken om resolusies oor belangrike kwessies ter tafel te lê.

Dit is in teenstelling met die petrochemiese groep Sasol wat in 2018 ’n soortgelyke resolusie van Botha en die Raith Foundation geweier het. Sasol het ’n regsmening gekry wat lui aandeelhouers is nie daarop geregtig om oor die maatskappy se klimaatsveranderingskwessies te stem nie, volgens Just Share.

Standard Bank het vroeër die week herhaal wat sy nuwe beleid oor die leen van geld vir die bou van nuwe steenkoolkragstasies is. Die beleid geld sedert Julie 2018. Hiervolgens sal Standard Bank net geld leen vir kragstasies wat uiters doeltreffend is en minder as 750 g se koolsuurgas per kWh se opgewekte elektrisiteit vrystel.

In sekere gevalle waar die perke oorskry word, sal die bank wel geld leen vir kleiner kragstasies in sekere lande.

Die beleid impliseer dat Standard Bank nie meer geld vir die bou van twee nuwe privaatbeheerde steenkoolkragstasies in Suid-Afrika, Thabametsi en Khanyisa, gaan verskaf nie.

In sy verduideliking waarom hy aandeelhouers aanbeveel om teen Botha-hulle se resolusie te stem, sê Standard Bank hy het reeds verskeie maatreëls in gestel om omgewingsrisiko’s in sy leningsbedrywighede te bestuur, en hy doen in sy jaarverslag daaroor verslag.

Standard Bank sê banke word reeds omvattend en intensief gereguleer. Sy kliënte wat in Suid-Afrika sake doen word ook reeds gedwing om ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur hul kweekhuisgasvrystellings aan te meld. Boonop is die koolstofbelasting op pad wat verder sal help met die skuif na ’n laer koolstofekonomie.

Weens die onsekerheid oor hoe die groep prakties moet voldoen aan die voorgestelde resolusie meen Standard Bank nie die resolusie is in die beste belang van die groep en sy aandeelhouers nie.

Maar Davies sê die direksie se aanbeveling is in stryd met die aanbevelings van die internasionale taakspan oor klimaatsverwante finansiële openbaarmakings (TCFD). Volgens haar gebruik ’n toenemende aantal banke wêreldwyd die TCFD se raamwerk om hul klimaatsrisiko’s bekend te maak.

“Baie van die institusionele beleggers (soos pensioenfondse en ander beleggingsfondse) wat aandele in Standard Bank besit het beloftes aan hul kliënte gemaak oor verantwoordelike belegging.

Hulle belê geld namens miljoene mense wat al meer bekommerd raak oor klimaatsverandering. Die resolusie vra bloot meer gedetailleerde openbaarmaking van klimaatrisiko, wat belangrike inligting is vir aandeelhouers gegewe die wesenlike finansiële risiko wat klimaatsverandering inhou,” sê Davies.

Meer oor:  Standard Bank  |  Bankbedryf  |  Klimaat  |  Klimaatsverandering  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.