Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Standard Bank sluit glo 50 takke, 1 200 kan werk verloor

Dié berig is intussen opgevolg met die nuus en bevestiging dat 91 takke landwyd gaan sluit. Lees dit hier: Standard Bank: 91 takke teen einde Junie gesluit

Standard Bank gaan glo 50 van sy takke in Gauteng sluit en nagenoeg 1 200 werkers aflê.

’n Werknemer van een van dié takke werk en wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê in ’n e-pos aan Netwerk24 luidens briewe wat reeds aan die werknemers gegee is, gaan sowat 1 200 pakkette aangebied word.

Van Standard Bank se outomatiese banktellers in ’n winkelsentrum.

“Standard Bank het dié week sy personeel laat weet dat hy sowat 50 takke in Gauteng gaan sluit,” luidens die e-pos.

Dit sluit takke in Pretoria in die Quagga-sentrum; Bloedstraat, Arcadia; Rosslyn, en Wonderboom Junction in.

“Honderde gesinne word hierdeur geraak en personeel is gevra om aansoek te doen vir werk buite die bank, aangesien takke kleiner sal word en dit onmoontlik is om almal te kan plaas.

“Pakkette gaan glo aan sowat 1 200 takpersoneellede aangebied word. Meer takke in die ooste van Pretoria en die groter Gauteng word ook gesluit,” skryf die werknemer.

Sasbo, die vakbond van bankamptenare, sê in ’n verklaring hy is bewus van Standard Bank se besluit om takke toe te maak en dat daar gepaardgaande werksverliese gaan wees.

Benewens die takke wat gesluit word, is die werk van honderde personeellede by Standard Bank se IT-afdeling in gedrang wat weens toenemende digitalisering afgelê gaan word. Kragtens die art. 189-proses wat Standard Bank in November by dié afdeling begin het, word 528 werknemers die kans gebied om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar.

Lees ook: Standard se afleggings: ‘SA nie reg vir IT-revolusie’

Standard Bank het nog nie op ’n versoek om kommentaar reageer nie.

Die bank het ook nie verlede jaar alle poste gevul wanneer mense bedank of afgetree het nie en het in 2018 sy Suid-Afrikaanse personeel met meer as 900 verminder.

Standard Bank stel dit duidelik in sy nuutste resultate vir die jaar tot einde Desember 2018 wat hy op 7 Maart bekend gestel het, dat hy gaan plan maak met sy takinfrastruktuur.

“Ten einde die altyd-aan, altyd-veilige aanbod wat hulle (kliënte) verwag, te skep, gaan ons die strategiese IT-bates wat ons het, gebruik, ons produkontwikkeling versnel en ons prosesse digitaliseer.

“Dit benodig die herverdeling van hulpbronne van ons fisiese na ons digitale kanale en die gepaardgaande herkonfigurasie van ons takinfrastruktuur,” lui die jaarverslag.

Syfers in die verslag wys transaksievolumes het in die jaar tot einde Desember 2018 met 27% gestyg. Dit is aangehelp deur digitale volumes wat met 34% gestyg het, terwyl die transaksies wat in takke uitgevoer is, met 12% gedaal het.

Standard Bank het luidens sy resultate reeds 11 takke in 2018 gesluit. Hy het nou 629 takke.

Die bank is nie die enigste een wat sy werksmag afskaal nie. Absa het op 7 Maart aangekondig dat hy sy banke herstruktureer en na verwagting moontlik 800 poste gaan afskaf.

Lees ook: Meer as 800 poste in gedrang by Absa

René van Wyk, waarnemende uitvoerende hoof van Absa, het Maandag met die bekendmaking van die bank se resultate vir die jaar tot einde Desember gesê die bank is definitief nie gelukkig om dié stap te neem nie.

“Dit is ongelukkig onvermybaar. Ons wil enige afleggings tot die minimum beperk,” sê hy.

Meer oor:  Absa  |  Standard Bank  |  Sasbo  |  Takke  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.