Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Stedelike vervoer: Die toekoms lê in ’n kapsule
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die stelsel bo ’n sypaadjie funksioneer.
Andries Louw, uitvoerende hoof van Milotek.
Die Futran-toetsbaan buite Brits waar die stelsel vir die mynbedryf getoets word.

Vervoerkapsules, oftewel pods wat deur die lug sweef, is dalk binnekort nie meer wetenskapfiksie nie. ’n Maatskappy in Midrand wil dit ’n werklikheid maak.

“Stede in Suid-Afrika en die res van Afrika kan nie duur openbare vervoer soos moltreinstelsels bekostig nie. Daar is ook nie plek om nog paaie te bou nie. Daar is net een oplossing – hulle moet ophou grondwaarts kyk en eerder lugwaarts begin kyk,” sê Andries Louw, uitvoerende hoof van Milotek.

“Ons glo ’n eenvoudige baan of spoor bo sypaadjies waaraan kapsules of karretjies hang, is hoe mense in die toekoms bekostigbaar in stede sal kan rondbeweeg.”

Stede soos Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad het reusevervoeruitdagings.

“Studies wys die stedelike bevolking in Afrika gaan verdriedubbel teen 2050. Dit beteken stede gaan vir sowat 800 miljoen mense gebou moet word. Daar woon tans sowat 800 miljoen mense in Chinese stede – so ons gaan basies nog ’n China teen 2050 moet bou.

“Hoe gaan ons al daardie mense vervoer?”

Hy sê Milotek het reeds bewys so ’n stelsel kan werk. Hy het ’n 1 km lange toetsbaan vir sy Futran-stelsel buite Brits gebou om te wys myne kan die stelsel selfs gebruik om swaar vragte mee te skuif.

Nog gebruike

Die stelsel kan vir veel meer as passasiers gebruik word.

“Laatnag, wanneer daar nie passasiers is nie, sal kleinhandelaars en winkelsentrums groter eenhede kan gebruik om voorraad af te lewer. Die baan kan dus bedags besoekers na ’n sentrum bring en snags voorraad.

“Ons dink ook daar kan ’n reuse- informele sektor ontwikkel waar mense die stelsel gebruik om pakkies af te laai. Mense sal iets aanlyn kan bestel en dan word dit onmiddellik deur ’n koerier in ’n vervoerkapsule afgelewer,” sê Louw.

Hotelle kan byvoorbeeld ritte in die kapsules by hul kamertarief insluit.

“Besoekers kan dan sommer hul kamer se kaart gebruik om op die stelsel te ry.”

Koste

Volgens Louw kan ’n kaartjie so min soos R10 per rit van sowat 12 km wees. Die kapsules sal tot 70 km/h kan haal.

“Ons verwag dat daar verskillende tariewe vir verskillende tye van die dag sal wees. Ons sal graag soveel moontlik mense wil aanmoedig om die stelsel die heeltyd te gebruik. Hoe meer mense ry, hoe vinniger gaan hy afbetaal wees.”

“Ons het ook pas ’n kontrak gekry om ’n baan vir ’n mynmaatskappy in Mpumalanga te bou om steenkool van die wasaanleg op die myn tot by die spoorlaaipunt te vervoer. Benewens die feit dat die myn steenkool op die baan kan vervoer, kan hy ook enigiets anders vervoer wat van die spoorlyn na die myn moet gaan.

“As ons ’n eenheid kan bou wat duisende ton steenkool kan vervoer, kan ons eenhede bou om agt passasiers te vervoer,” sê hy.

So ’n vervoerkapsule sal via ’n selfoontoepassing bestel word. Dit sal die passasier neem na waar hy wil wees sonder om by ander plekke te stop.

“Ondernemings kan selfs ’n ‘stasie’ in hul gebou kry waar net hul werknemers of besoekers kan afklim. Dieselfde geld vir skole. Kinders kan die kapsule by die huis haal en hy sluit net by die skool oop waar hulle veilig kan afklim,” sê Louw.

Plaaslike vervaardiging

Milotek beplan om die hele stelsel plaaslik te vervaardig.

“Dink aan ’n goeie ou Meccano-boustel. Ons wil dieselfde beginsel volg deur standaardonderdele te gebruik wat maklik en goedkoop is om op groot skaal te produseer.”

Plaaslik vervaardigde staal sal in die produksie gebruik word.

Daar is ook uitvoergeleenthede na die res van Afrika, wat ’n hupstoot vir ekonomiese groei in Suid-Afrika kan wees.

Die plan is om ’n baan met kapsules te bou wat tussen ses en agt passasiers op ’n slag kan vervoer. Dit beweeg bo sypaadjies en gebruik so min energie dat dit heeltemal deur sonkrag aangedryf kan word.

Louw sê hulle is reeds in gesprek met verskeie munisipaliteite om die lewensvatbaarheid van so ’n stelsel te ondersoek.

“Ons stel ’n vennootskap tussen ons en die betrokke munisipaliteit voor. Ons glo dit is moontlik dat private maatskappye winsgewende openbare vervoerstelsels kan bou,” sê hy.

Presies wat die staat se belang hierby sal wees, moet nog bepaal word.

“Heffings kan op sulke vervoeropsies ingestel word om moontlike belastingverliese wat munisipaliteite kan ly weens minder brandstofverkope en lisensiëring teen te werk.”

Meer oor:  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.